Sri Lanka stuit Proteas se segetog

Sri Lanka team

Sri Lanka team

SRI LANKA se droogte in die Eendagreeks teen die Standard Bank Proteas is uiteindelik verby toe hulle die 4de wedstryd met 3 lopies volgens die D/L metode in Pallekele gewen het. Die wedstryd is verskeie kere deur reën onderbreek.

Die Sri Lankane het hierdie keer met 'n begeesterde vertoning vorendag gekom, verreweg hulle beste van die reeks. Die aanvangspaar van Niroshan Dickwella en Upul Tharanga, het uiteindelik 'n stewige platform geskep deur 61 binne 11.3 boulbeurte te moker. Dit het die grondslag gelê vir hulle telling van 306/7 in 39 boulbeurte. Die kolfbeurt is op skouspelagtige wyse afgesluit met Thisara Perera en Dasun Shanaka wat 109 om die 7de paaltjie aangeteken het in slegs 11 boulbeurte.

Met reën wat spel telkemale ontwrig het, is die aantal boulbeurte verminder tot 45, toe 43 en toe uiteindelik 39, met die Proteas wat 308 vir 'n oorwinning moes aanteken.

Die ander faktor in Sri Lanka se oorwinning was 'n uitstekende vertoning in die veld, met die uithardloop van JP Duminy na 'n direkte gooi een van die hoogtepunte. Dhananjaya de Silva het ook 'n uitmuntende akrobatiese vangskoot benut om van Wiaan Mulder ontslae te raak.

Die Proteas het aanvanklik goed afgeskop met nuwe kaptein, Quinton de Kock en Hashim Amla wat 21 vanaf die eerste twee boulbeurte gemoker het voordat reën weer uitgesak het. Gevolglik moes die besoekers 'n hersiene teiken van 191 in 21 boulbeurte vir 'n oorwinning aanteken.

Die Proteas het gelyk asof hulle sake onder beheer het, veral met hulle lopietempo, maar het toe gereeld begin paaltjies verloor om die tuisspan binne die prentjie te hou.

Teen die einde het Thisara Perera en Suranga Lakmal ook uitstekend vertoon om die oorwinning vir die tuisspan te beklink.

Dasun Shanaka, wat amper twee jaar laas in 'n Eendagwedstryd vir Sri Lanka gespeel het, is as die Seler van die Wedstryd aangewys vir sy bydrae met kolf en bal.

Die Proteas loop met 3-1 voor in die aanloop tot die laaste wedstryd, 'n dag/aand wedstryd Sondag in Kolombo.