De Kock en Duminy lei Proteas in Faf se afwesigheid

Quintin de Kock during a Proteas training session.

Quintin de Kock during a Proteas training session.

Quinton de Kock en JP Duminy is aangewys as die onderskeie waarnemende kapteins vir die oorblywende Eendagwedstryde en die eenmalige T20- wedstryd teen Sri Lanka. De Kock sal die span lei in die twee Eendagwedstryde in Kandy en Kolombo, met die Duminy wat die leisels sal oorneem in die T20-wedstryd in Kolombo.

Dit is De Kock se eerste geleentheid in 'n leierskapsposisie vir die Proteas. Hy het die SA Onder 19-span in 2012 aangevoer en die hoofafrigter, Ottis Gibson glo dit sal sy groep van leiers in die span net verder vergroot.

“Ek dink Quinton het 'n baie goeie krieketbrein en hy verstaan die spel," het hy in Kandy gesê. "Noudat Faf beseer is, bied dit vir ons 'n goeie geleentheid om te sien wat se leier hy kan wees oor die volgende twee wedstryde. Hy verstaan die spel en gee altyd raad aan die kaptein op die veld. Hy het beslis goeie leierskapseienskappe, selfs as 'n gewone speler."

“Ons wil ook die span en die leiers binne die span laat groei," het hy verduidelik. "Aiden het die span teen Indië gelei en hy is tans nie in die span nie want hy het ietwat gesukkel in Sri Lanka. Dis hoekom ons aan Quinton gedink het oor die volgende twee wedstryde, sodat Aiden homself kan regruk. Hy is 'n uitstekende speler en ons weet hy gaan weer op dreef kom en daar sal weer geleenthede wees vir hom om sy leierskap te toon."

Duminy het al voorheen die T20-span in Du Plessis se afwesigheid aangevoer tydens die reeks teen Indië tuis vanjaar en maak sy terugkeer vir die eenmalige wedstryd aanstaande Dinsdag.

“JP was vir 'n hele ruk die T20-kaptein, veral wanneer Faf beseer was of 'n blaaskans gegun word." het Gibson verduidelik. "Hy het homself baie goed van sy taak gekwyt in die T20-formaat en het uitstekende leierskap getoon. Ons wil beslis daarmee voortgaan."

Die Proteas het 'n onaanvegvare 3-0 voorsprong in die reeks en het goed teruggeveg na 'n teleurstellende 2-0 nederlaag in die Toetsreeks. De Kock sê hy is opgewonde oor die volgende hoofstuk en wil voortbou op Du Plessis se werk.

“Om eerlik te wees, ek is baie senuweeagtig, maar dis 'n eer om die Proteas te lei," het hy gesê. "Ek wil voortbou op wat Faf gedoen het en wil glo in my vermoë en wat dit beteken om 'n goeie leier te wees. Ek wil ander ook vorentoe neem en 'n bydra lewer as kaptein.

“Die span se vertonings tans spreek boekdele," het hy oor die 3-0 voorsprong gesê. "Almal doen op hierdie stadium al die regte dinge. Die kolwers teken lopies aan en die boulers neem paaltjies. Die veldwerkers was uitstekend. Ons wil daardie standaarde handhaaf in die volgende twee Eendagwedstyde."

Die 4de Eendagwedstryd teen Sri Lanka word in Pallekele gespeel en begin om 14:30 plaaslike tyd.