Phehlukwayo geniet verantwoordelikheid aan die einde van die beurt

Stanard Bank Ptoteas players Lungi Ngidi (L) and Andile Phehlukwayo (R) having a chat during the South African national mens cricket team nets session (Photo by Isuru Sameera Peiris/Gallo Images)

Stanard Bank Ptoteas players Lungi Ngidi (L) and Andile Phehlukwayo (R) having a chat during the South African national mens cricket team nets session (Photo by Isuru Sameera Peiris/Gallo Images)

Standard Bank Proteas veelsydige speler Andile Phehlukwayo, sê hy geniet die verantwoordelikhede teen die einde van die kolfbeurt in die huidige Eendagreeks teen Sri Lanka. Die 22-jarige het die reeks stadig afgeskop, maar agter die skerms saam met afrigter Ottis Gibson gewerk en uit sy foute geleer. Dit het tot 'n verbeterde vertoning in die tweede wedstryd in Dambulla gelei, wat die besoekers met 5 paaltjies gewen het.

Hy het danksy goeie variasie 3/45 laat kantel en veral teen die einde die lopies laat opdroog en Sri Lanka beperk tot 'n beskeie 244/8.

“Ek het na die wedstryd na die beeldmateriaal gekyk met die afrigter om te sien hoe ek kon verbeter na die eerste Eendagwedstryd," het hy gesê. "Ek het teen die einde baie variasies gebruik en dit het vrugte afgewerp. Ons het ook 'n goeie oefening voor die wedstryd gehad en die ouens was positief oor hoe hulle die kolwers gaan laat lês opsê. Dit het my ook geleer om my planne uit te voer, veral wanneer die kolwers jou wil aanval."

Die linkskolwer was ook voor die penne teen die einde van die kolfbeurt en saam met die veelsydige Wiaan Mulder seker gemaak dat die Proteas die oorwinning beklink in moeilike toestande. Phehlukwayo het bewys dat hy wedstryde kan wen onder geweldige druk. So het hy 'n onoorwonne 42 teen Australië in Durban gemoker en was ook die Proteas se held teen Nieu-Seeland in Hamilton verlede jaar.

“Dit was my eerste keer wat ek op hierdie toer moes kom kolf. Dit was moeilik en die eerste paar balle het baie gedraai," het hy verduidelik. "Ek het baie selfvertroue begin kry, veral omdat ek die veeghou speel en ek het dit geniet. Daar lê nog baie harde werk voor en om aan die toestande gewoond te raak is nie maklik nie. Ek geniet dit om verantwoordelikheid te neem en om 'n bydra teen die einde te lewer. Ek is nogal trots daarop."

Die derde Eendagwedstryd in Kandy Sondag bied aan die Proteas 'n rare geleentheid om 'n reeksoorwinning op die eiland te beklink. Hulle het dit nog net een keer tevore vermag, 'n 2-1 reeksoorwinning in 2014.

“ 'n Reeksoorwinning is beslis ons doelwit," het hy bygevoeg. "Die ouens werk baie hard en hulle is positief. Ons speel tans goeie krieket. Ons wil nie onnodige druk op onsself sit nie, maar ons wil die reeks wen. Spanne kom nie sommer hier en wen nie of loop 3-0 voor nie. Ons wil beslis die reeks wen."