Naatboulers help Proteas tot 2-0 reeksvoorsprong

Standard Bank Proteas all-rounder  Andile Phehlukwayo celebrates the wicket  with Hashim Amla  (Photo by Sameera Peiris/Gallo Images)

Standard Bank Proteas all-rounder Andile Phehlukwayo celebrates the wicket with Hashim Amla (Photo by Sameera Peiris/Gallo Images)

Die Standard Bank Proteas se naatboulers het weereens Sri Lanka tot 'n lae telling beperk en sodoende hul tweede agtereenvolgende oorwinning in Dambulla behaal en loop nou met 2-0 voor in die reeks van 5 wedstryde.

Die besoekers het met 4 paaltjies gewen en daar was 43 balle oor toe die wenlopies geslaan is.

Sri Lanka het weereens die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar is vroeg onder druk geplaas deur Lungi Ngidi, wat twee paaltjies vanaf agtereenvolgende balle in sy eerste boulbeurt geneem het.

Hoewel hulle daarna 'n paar venootskappe van meer as 50 gehaal het, was die venootskap van 67 om die 4de paaltjie tussen Angelo Mathews (79* 111 balle, 6 viere) en Niroshan Dickwella (69 vanaf 78 balle, 10 viere) die tuisspan se beste. Die Proteas het nogtans gereeld paaltjies geneem en die tuisspan beperk tot 244/8 in hulle 50 boulbeurte.

Die naatboulers het al agt paaltjies geneem met Ngidi (3/50 in 8 boulbeurte) en Andile Phehlukwayo 3/45 in 9 boulbeurte) wat die uitblinkers was.

Die twee draaiboulers het ook 'n waardevolle rol gespeel met JP Duminy en Tabraiz Shamsi wat saam slegs 73 lopies in hulle gesamentlike 17 boulbeurte afgestaan het.

Enige kans wat Sri Lanka gehad het om die wedstryd te wen, het vinning verdwyn nadat beide Hashim Amla en die Speler van die Wedstryd, Quinton de Kock, vroeg in hulle kolfbeurte misgevang is. Die paar het gevolglik 91 om die eerste paaltjie gemoker.

De Kock en Faf du Plessis het toe 53 lopies om die derde paaltjie bygedra, maar teen die einde het die besoekers meer paaltjies verloor as wat hulle sou wou hê. Dit was nogtans 'n gemakilike oorwinning vir die Proteas.

De Kock (87 vanaf 78 balle, 13 viere en 'n ses) was die besoekers se beste kolwer. Hy was goed op pad om 'n honderdtal aan te teken voordat hy op die grens uitgevang is.

Die Proteas sal nogtans bly wees om te sien dat hulle aanvangspaar weer goeie lopies aanteken. Hulle het groot rolle om te speel met die aanloop tot aanstaande jaar se Krieketwêreldbeker.

Die draaibouler Akila Dananjaya was die enigste Sri Lankaanse bouler wat die kolwers gepla het. Hoewel hy 3 paaltjies geneem het, het hy meer as 50 lopies in sy 10 boulbeurte afgestaan.

Die derde Eendagwedstryd word Sondag in Pallekelle gespeel.