Rabada en Shamsi die helde in maklike oorwinning in eerste eendagwedstryd

 Kagiso Rabada (3rd L) celebrating the wicket along with team mates  (Photo by Isuru Sameera Peiris/Gallo Images)

Kagiso Rabada (3rd L) celebrating the wicket along with team mates (Photo by Isuru Sameera Peiris/Gallo Images)

KAGISO RABADA en Thabraiz Shamsi het elk vier paaltjies platgetrek om die Standard Bank Proteas te help om 'n oorwinning met 5 paaltjies te verseker in die eerste Eendagwedstryd teen Sri Lanka in Dambulla. Daar was 19 boulbeurte oor toe die wenlopies geslaan is.

Die hele wedstryd het slegs 66 boulbeurte geduur met Sri Lanka wat vir slegs 193 in 34.3 boulbeurte uitgeboul is. Daarna het die Proteas net 31 boulbeurte benodig om die teiken te bereik.

Dit was die 6de keer wat Rabada dit regkry om 4 of meer paaltjies in 'n wedstryd te neem. Hy het gespog met syfers van 4/41 in 8 boulbeurte. Shamsi het 4/33 in 8.3 platgetrek, sy beste syfers teen enige teenstander.

Quinton de Kock het ook 'n plek in die rekordboeke bespreek met sy 5 vangskote, wat 'n nuwe rêkord is vir die Proteas teen Sri Lanka. Die vorige beste was vier slagoffers, deur Dave Richardson en Mark Boucher.

Rabada, wat drie paaltjies tydens sy eerste boulskof geneem het, en Lungi Ngidi het Sri Lanka laat steier op 36/5 voordat Kusal Perera (81 vanaf 72 balle, 11 viere en 'n ses) en Thisara Perera (49 vanaf 30 balle, 8 viere) 'n teenaanval geloods het met 'n venootskap van 92 om die 6de paaltjie. Shamsi, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, het toe van beide ontslae geraak om Sri Lanka se weerstand in die kiem te smoor.

'n Venootskap van 86 om die derde paaltjie tussen De Kock en Faf du Plessis het die grondslag gelê vir die Proteas se oorwinning. Albei het 47 aangeteken.

Duminy, wat weer op sy stukke lyk, het toe die afrondingswerk gedoen met 'n onoorwonne 53 vanaf 32 balle (6 viere en 2 sesse) deur die draaiboulers aan te vat en goeie veeghoue uit te voer.

Wat die Suid Afrikaanse bestuur sal laat moed skep, is die wyse waarop die boulers Sri Lanka se twee draaiers, Akila Dananjaya en Lakshan Sandakan, getem het. Hoewel hulle saam 4 paaltjies geneem het, het hulle 124 lopies in 18 boulbeurte afgestaan.

Dit was die Proteas se eerste oorwinning in Dambulla na twee vorige pogings. Die tweede Eendagwedstryd is 'n dag/aand stryd Woensdag by dieselfde stadion.