Proteas verskuif fokus na Eendagreeks

JP Duminy  (Photo by Frikkie Kapp/Gallo Images)

JP Duminy (Photo by Frikkie Kapp/Gallo Images)

Die Standard Bank Proteas het fokus verskuif na die Eendagreeks van 5 wedstryde teen Sri Lanka, wat Sondag in Dambulla begin. Die groep het hulle eerste oefening in Kolombo gehou en pak Donderdag 'n Sri Lanka Raadselftal in 'n opwarmingswedstryd van 50 boulbeurte by die P.Sara Ovaal.

Daar is ses nuwelinge – JP Duminy, David Miller, Andile Phehlukwayo, Wiaan Mulder, Junior Dala en Reeza Hendricks wat by die groep aangesluit het. Hulle behoort 'n nuwe energie aan die groep te bring na 'n teleurstellende Toetsreeks nederlaag.

Die veelsydige JP Duminy, sê die groep sal die reeks met nuwe perspektief en insigte benader.

“ Die gees onder die ouens is nog steeds goed," het hy verduidelik. "Mens wil probeer om van die Toetsreeks te vergeet en kyk watter lesse ons in die Eendagreeks kan neem. Hier is 'n hele paar ouens met nuwe energie wat baie waarde sal toevoeg. Hierdie is van die ervarings waardeur mens gaan in jou loopbaan en dit gaan nie die laaste keer wees nie. Mens moet daaruit leer en sien hoe jy kan verbeter."

“Dis 'n jong en opwindende groep," het hy bygevoeg. "Hulle het almal goed gespeel en verdien om in die span te wees en dit sit druk op die ouer manne. Hulle het goeie energie en dis goed vir die atmosfeer in die span."

Duminy het sy Eendagdebuut in Kolombo in 2004 gemaak en is die mees ervare Eendagspeler in die huidige groep, met 184 wedstryde vir die Proteas. Hy maak sy terugkeer in 'n land waar hy gemengde welslae gehad het in die 13 wedstryde waarin hy deelgeneem het. Hy hoop nogtans dat hulle in die die reeks meer sukses sal behaal as in die verlede.

“ Dis 'n wonderlike ervaring vir enige speler," het hy oor die reeks gesê. "Ek was al 'n paar keer in hierdie situasie waar dinge moeilik gegaan het, maar ook al sukses hier behaal. Ons wil fokus op die sukses wat ons hier behaal het want tydens die laaste toer (2014) het ons goed in die T20-reeks en die Eendagreeks gevaar. Ons dink ons kan beslis verbeter."

“ Ek voel die toestande gaan nie so uitdagend wees soos in die Toetsreeks nie, so die kolwers sal goeie geleenthede kry en ons moet dit aangryp," het hy afgesluit.

Die opwarmingswedstryd teen die Sri Lankaanse Raadselftal begin om 10h00 plaaslike tyd. Al 15 lede in die groep sal deelneem aan die wedstryd.