‘Positiewe krieket hou die sleutel tot sukses op die subkontinent - Gibson

Standard Bank Proteas coach Ottis Gibson

Standard Bank Proteas coach Ottis Gibson

Standard Bank Proteas afrigter Ottis Gibson, glo 'positiewe' krieket hou die sleutel tot sukses in die opkomende Toetsreeks teen Sri Lanka, wat op die 12de Julie in Galle begin. Die Proteas het hulle voorbereiding afgesluit met 'n tweedaagse opwarmingswedstryd teen 'n Sri Lankaanse Elftal. Die wedstryd het onbeslis geëindig en die groep sal Maandag na Galle reis voor Donderdag se Toets.

Gibson het 'n uitstekende begin gemaak tot sy rol as afrigter en het sewe van sy nege Toetse reeds gewen. Die reeks van twee Toetse sal sy eerste reeks buite Suid Afrika wees, en hy sien uit daarna om die span weer die nommer een span op die Internasionale Krieketraad se ranglys te maak.

“As ons wil wen in hierdie toestande sal ons baie positief moet wees," het Gibson in Kolombo gesê. "As mens kyk na hoe Sri Lanka hulle krieket speel, plaas hulle veldwerkers om die kolwers as hulle kom kolf, so daar is altyd geleenthede om lopies aan te teken."

“Mens moet positief wees en daardie gapings in die buiteveld uitbuit. Dis altyd beter om lopies aan te teken terwyl jy voor die penne is. Dit was nog altyd my filosofie, en hierdie toestande gaan nie my van benadering laat verander nie."

Die afrigter is tevrede met die uitslag van die opwarmingswedstryd, met die boulers en die kolwers wat goed vertoon het. Faf du Plessis was die groot uitblinker met die kolf met 79, terwyl Hasim Amla (78) Dean Elgar (43) en Temba Bavuma (58) almal goeie bydraes gelewer het. Na die laer orde in duie gestort het, is die span vir 338 uitgeboul.

“Ek dink ons het gekry wat ons wou gehad het uit die wedstryd," het hy gesê. "Ons het gister baie goed geboul en ons moet gewoond raak aan die toestande in Sri Lanka. Ons het geweet die kolfblad was aan die stadige kant en dit was belangrik vir die naatboulers om baie boulbeurte af te stuur."

“Ek dink Shamsi het uitstekend geboul en staan beslis 'n kans om in die Toetsspan ingesluit te word. Ons het ook goed gekolf en wou almal 'n kans gee om te kolf. Hashim het uitgetree toe hy 78 bereik het om almal 'n geleentheid te gee om te kolf. Aan die ander kant was ek teleurgesteld dat die stertkolwers nie die tyd ordentlik benut het nie. Dit was nie goed om uitgeboul te word nie, maar dis nie die einde van die wêreld nie. Ons beweeg nou aan na Galle en sien uit na 'n goeie week se voorbereiding."

Gibson is tevrede met die verskillende opsies wat die boulers betref en glo dat die naatboulers en die draaiboulers 'n groot faktor sal speel in die reeks. Hy gee toe dat hulle dit oorweeg om twee draaiboulers in te span, maar sal dit slegs doen nadat hy die toestande in Galle bestudeer het.

“ Ons dek alle opsies met die span wat ons gekies het," het hy uitgebrei. "Ons het drie uitstekende naatboulers en drie draaiboulers. Ons moet Galle toe gaan en sien hoe die baanblad lyk. Ek dink ons sal ongeag 'n baie sterk span kan kies, een wat die eerste Toets kan wen."