Philander verniel Aussies tydens laaste oggend

Standard Bank Protea, Vernon Philander celebrates with teammates

Standard Bank Protea, Vernon Philander celebrates with teammates

VERNON PHILANDER het net drie boulbeurte benodig om sy 200ste Toetspaaltjie en sy 50ste teen Australië in te palm en die besoekers behoorlik verniel deur 6/21 te neem op die laaste oggend van die vierde Sunfoil Toets op Bidvest Wanderers.

Spel het net langer as 'n uur geduur met die Standard Bank Proteas wat met 'n allemintige 492 lopies geseëvier het, die grootste oorwinning in Suid Afrikaanse geskiedenis.

Sodoende het die Proteas die reeks met 3-1 gewen, Suid Afrika se eerste tuisoorwinning oor Australië.

Op een stadium het Philander gespog met syfers van 6/3 voordat die nommer elf kolwer, Josh Hazlewood twee grenshoue teen die einde van die beurt genoker het. Philander het 9/51 in die wedstryd geneem, sy beste boulsyfers ooit. Dit was ook die 13de keer dat hy 5 paaltjies of meer in 'n Toets ingepalm het. Philander is ook as die Sunfoil Speler van die Wedstryd aangewys. Vroeër die seisoen het hy ook 6/42 teen Indië platgetrek.

Philander en Kagiso Rabada, wat as die Sunfoil Speler van die Reeks aangewys is, het nou die meeste paaltjies in Toetskrieket vanjaar ingeoes. Hulle het onderskeidelik 31 en 38 paaltjies platgetrek en al hul paaltjies is teen twee reuse van die krieketwêreld, Indië en Australië geneem.

Keshav Maharaj, wat veronderstel was om 'n leidende rol op die laaste dag te speel, het beswaarlik geboul, met Faf du Plessis wat Morne Morkel ingespan het in 'n poging om sy laaste paaltjie in Toetskrieket in te palm. Ongelukkig is die laaste Australiese kolwer uitgehardloop.

Australië het die reeks afgesluit sonder dat enige kolwer 'n honderdtal kon aanteken en geen venootskappe van 100 lopies nie.

Drie van die 4 voorste kolwers in die reeks was almal Proteas en hulle het ook drie van die 4 voorste boulers opgelewer.

Die Suid Afrikaanse boulers het sake sodanig domineer dat hulle slegs een keer in die reeks die tweede nuwe bal moes aanvra.

Wat die tuisspan ook sal bemoedig is die feit dat die twee kandidate vir die titel van Speler van die Reeks, Rabada en Aiden Markram, albei die twee jongste spelers in die span is. Die span het ook reuse karakter getoon deur drie Toetse in 'n ry te wen nadat hulle 'n nederlaag in die eerste Toets gely het.

Die Sunfoil Opvoedings Trust (SET) is beloon met R980 000 vir die aantal viere en sesse wat geslaan is, asook die paaltjies wat die twee spanne geneem het. Altesaam is R2 038 500 tydens die seisoen ingesamel, wat ook die reeks teen Bangladesj en Indië insluit.