Bavuma plaas Proteas in algehele beheer

Standard Bank Proteas batsman Temba Bavuma

Standard Bank Proteas batsman Temba Bavuma

TEMBA BAVUMA was aan die voorpunt met die Standard Bank Proteas wat 'n byna foutlose vertoning op dag twee van die laaste Sunfoil Toets teen Australië op Bidvest Wanderers opgelewer het. Die Proteas se laaste 4 paaltjies het 175 bygedra met die Aussies wat teen uitskeityd op 110/6 teen die planke was.

Die enigste teleurstelling vir die Proteas was die feit dat Bavuma onoorwonne op 95 was (194 balle, 13 viere) nadat hy uit kolfmaats uit gehardloop het. Hy het beslis verdien om sy tweede Toetshonderdtal, en sy eerste teen Australië aan te teken.

Hy was betrokke in drie groot venootskappe. Die eerste het Vrydag begin toe hy en AB de Villiers 52 om die 5de paaltjie bygedra het. Daarna het hy en Quinton de Kock 85 om die 7de gemoker asook 76 om die 9de paaltjie met Keshav Maharaj. Laasgenoemde het 45 vanaf 51 balle gemoker (4 viere en 'n ses) voordat die laaste twee paaltjies vanaf agtereenvolgende balle geneem is, met Bavuma onoorwonne.

Nogtans het die Proteas die dag afgesluit met 'n reuse voorsprong van 378 en hulle kan beslis die Aussies vra om op te volg.

In hul kolfbeurt was Australië onmiddellik in die knyp, met die drie nuwe kolwers wat ingesluit is, wat slegs 12 lopies kon bydra. Met die 13de boulbeurt was die besoekers lelik in die knyp op 38/3 met Vernon Philander wat op die drumpel van 'n driekuns was.

Usman Khawaja het goed walgegooi in 'n venootskap met Shaun Marsh. Die paar het 52 om die 4de paaltjie bygedra met Khawaja wat 53 (84 balle, 9 viere) aangeteken het voordat hy op briljante wyse deur De Kock vanaf die boulwerk van Philander uitgevang is.

Die Marsh broers is albei kort na mekaar uitgehaal, met die kaptein Tim Paine wat saam met die boulers moes vasskop om spel tot die derde oggend te neem.

Die enigste ligpunt vir die besoekers was die boulwerk van Pat Cummins, wat deurentyd hul beste bouler in die reeks was. Hy het die laaste twee paaltjies ingeoes en geëindig met boulsyfers van 5/83 in 28 boulbeurte. Dis die tweede keer dat hy 5 paaltjies in n koflbeurt neem, en albei geleenthede was by die Wanderers.

Die Sunfoil Opvoedings Trust (SET) is beloon met R113 000 vir die aantal viere en sesse wat geslaan is, asook die aantal paaltjies wat albei spanne geneem het. Tot dusver is R 846 000 ingesamel