Aussies beklink eerste toets binne 22 balle

Mitchell Starc

Mitchell Starc

Australië het slegs 22 balle en 20 minute se spel benodig om die eerste Sunfoil Toets teen die Standard Bank Proteas op Sahara Stadion Kingsmead te beklink. Die besoekers het met 118 lopies geseëvier.

Quinton de Kock (83 vanaf 149 balle, 11 viere) en Morne Morkel het 5 lopies tot die oornagtelling bygevoeg voordat Josh Hazlewood vir De Kock BVP betrap het. Mitchell Starc (4/75 en 9/109 vir die wedstryd) was die Proteas se doodsteek terwyl Hazlewood self 3/61 laat kantel het.

Starc is as die Sunfoil Speler van die Wedstryd aangewys. Afgesien van die Proteas se teleurstellende vertoning met die kolf in die eerste beurt, was Starc en die Australiese stertkolwers die groot verskil tussen die spanne. Australië kon 100 lopies om sy laaste drie paaltjies in die eerste beurt aanteken terwyl Starc in albei beurte verwoesting gesaai het.

Aiden Markram se tweede Toetshonderdtal maak hom die vierde Suid Afrikaner om 'n honderdtal op sy debuut teen Australië aan te teken. Hy volg in die voetspore van Eddie Barlow, Jacques Rudolph en die huidige kaptein, Faf du Plessis.

Die Sunfoil Opvoedkundige Trust (SET) is beloon met R254 000 vanaf grenshoue wat geslaan is en aantal paaltjies wat geneem is.

Die tweede Toets begin Vrydag op St.George's Park in Port Elizabeth.