Dodelike Starc plaas Australie op die drumpel van oorwinning na Markram honderdtal

Quinton de Kock congratulations Aiden Markram

Quinton de Kock congratulations Aiden Markram

MITCHELL STARC het amok gemaak onder die Suid Afrikaanse stertkolwers voordat swak lig hom van 'n moontlike driekuns en 10 paaltjies in die wedstryd beroof het op die 4de dag van die eerste Sunfoil Toets tussen die Standard Bank Proteas en Australië op Sahara Stadion Kingsmead.

Starc het drie paaltjies binne 5 aflewerings geneem in sy 16de boulbeurt met die Proteas wat 9 paaltjies verloor het. Hulle benodig steeds meer as 'n 100 lopies om die teiken van 417 te bereik. Die skeidsregters het toe ook beslis dat die lig te swak was vir die snelboulers om voort te boul, dus moes Nathan Lyon en Steve Smith die res van die boulbeurte voltooi.

Die Proteas het die dag afgesluit op 293/9 met Quiton de Kock onoorwonne op 81 (138 balle, 11 viere) terwyl Morné Morkel goed walgegooi het om 27 balle te trotseer.

Die spanne sal nou op dag 5 terugkeer met Australië wat een paaltjie benodig en die Proteas 124 lopies.

Die Proteas sal moet besin oor hul kolfvertoning tydens die eerste beurt, wat tot 'n agterstand van 189 gelei het. Hulle het nogtans hulle name in ere herstel met 'n terugvegpoging wat begin het nadat hulle op een stadium op 49/4 gesteier het. Hashim Amla, AB de Villiers, Faf du Plessis asook Dean Elgar was toe reeds terug in die pawiljoen.

Die res van die dag is toe domineer deur die volgende generasie van Suid Afrikaanse kolwers met die 23-jarige Aiden Markram wat bewys het dat hy wel 'n spesiale speler is op internasionale vlak. Hy het 143 aangeteken (218 balle, 19 viere) en sy beste telling, wat vroeër vanjaar teen Bangladesj opgestel is, ewenaar. Dit was sy derde Toetshonderdtal, en soos Jacques Kallis, ook sy eerste teen Australië in die 7de Toets van sy loopbaan.

In die proses het hy ook die Proteas se eerste honderdtal aangeteken nadat hulle geen in die Toetsreeks teen Indië kon aanteken nie. Verlede jaar teen Engeland het die Proteas net een honderdtal gemoker.

Hy het goeie ondersteuning ontvang van twee 25-jariges, Theunis de Bruyn en De Kock. Hulle was in venootskappe van 87 om die 5de en 147 om die 6de paaltjie betrokke.

Nog 'n kolwer, Temba Bavuma, mis tans die wedstryd weens besering en die keurders sal ook op hom wil staatmaak wanneer die goue generasie sou uittree.

Die mees merkwaardigste statistiek van die dag was Nathan Lyon se onvermoë om 'n paaltjie te neem. Dit het ook nie saak gemaak nie want Starc en die ander snelboulers het daarvoor vergoed.

Daarenteen het Keshav Maharaj die laaste Australiese paaltjie in die tweede beurt ingeoes en gespog met 9/225 in 63.2 boulbeurte.

Ten minste het die Proteas gewys dat hulle gereed is om met Australië te kompeteer en omdat daar 4 Toetse gespeel word, het hulle genoeg geleenthede om terug te veg in die reeks.