Kohli en draaiboulers hou aan om Proteas te domineer

Virat  Kohli

Virat Kohli

VIRAT KOHLI het voortgegaan om die Standard Bank Proteas se boulaanval te domineer terwyl die Indiese draaiboulers ook die kolwers dronk geboul het om aan Indië 'n maklike oorwinning met 124 lopies te besorg in die derde Momentum Eendagwedstryd op PPC Nuweland.

Met dié uitslag het Indië nou 'n onaanvegbare 3-0 voorsprong in die reeks van 6 wedstryde geneem en die Proteas met die bykans onbegonne taak gelaat om die volgende drie eendagwedstryde agtereenvolgens te wen om gelyk te trek in die reeks. Die vierde Eendagwedstryd is die Pienk Wedstryd, wat Saterdag op Bidvest Wanderers gespeel sal word.

Kohli het sy tweede honderdtal van die reeks gemoker. Hierdie keer het sy beurt van 160 (159 balle, 12 viere en 2 sesse) Indië gehelp om 303/6 aan te teken en sy gemiddeld en aantal lopies vir die reeks staan nou op 318. Dis moeilik om te dink hoe hy op hierdie statistieke kan verbeter.

Lof moet ook gaan aan die aanvangskolwer Shikhar Dhawan, wat self 12 viere gemoker het in sy beurt van 76 vanaf 63 balle en was die meer aanvallende kolwer in hul venootskap van 140 om die tweede paaltjie.

Daarna was dit Kohli wat die krane oopgedraai het en 101 lopies op eie houtjie aangeteken van die 162 wat Indië daarna op die telbord gesit het. Tussen Dhawan en Kohli het albei 24 viere en 2 sesse gemoker, terwyl die res van die Indiese kolwers gesamentlik 25 viere en 3 sesse aangeteken het.

Die Proteas het goed afgeskop toe Kagiso Rabada vroeg van Rohit Sharma ontslae geraak het. Hy is met die laaste bal van die eerste boulbeurt agter die penne uitgevang deur Heinrich Klaasen en aan laasgenoemde sy eerste slagoffer besorg.

Rabada, wat goed met die nuwe bal gevaar het, het so byna vir Kohli in sy tweede boulbeurt kleedkamer toe gestuur. Die Indiese kaptein, wat op daardie stadium slegs 4 op die telbord gehad het, is BVP betrap, maar die beslissing is omgekeer.

Die Proteas het ook 'n goeie periode met die kolf gehad. Na die vroeë vertrek van Hashim Amla het Aiden Markram en JP Duminy 78 om die tweede paaltjie aangeteken, met albei spanne se tellings wat na 15 boulbeurte redelik gelyk was.

Alles het daarna verander toe Kuldeep Yadav die aanval in die 16de boulbeurt betree het en Markram met vlug geflous het en laat stonk het.

Hoewel Duminy 'n 50-tal aangeteken het (51 vanaf 67 balle, 4 viere) het Yadav en sy mede draaibouler, Yuzvendra Chahal, verwoesting gesaai en vier paatjies elk laat kantel.

Yadav veral was uitstaande met sy beheer en die gebruik van lengte en vlug om die kolwers hoofbrekens te besorg.

Die paar het nou gesamentlik 21 paaltjies binne 52.2 boulbeurte in die reeks ingepalm. Vir die tweede wedstryd in 'n ry is die Proteas binne 50 boulbeurte uitgeboul en hulle sal koppe bymekaar moet sit om hulle volle kompliment van boulbeurte uit te kolf.

Rabada en Chris Morris het die beste gevaar met die bal terwyl Duminy sy veelsydigheid beklemtoon het deur ook 2 paaltjies te laat kantel in sy kwota van 10 boulbeurte.