Proteas bly positief in poging om momentum te verskuif.

Standard Bank Proteas bowler Kagiso Rabada

Standard Bank Proteas bowler Kagiso Rabada

Standard Bank Proteas snelbouler, Kagiso Rabada, sê die groep probeer 'n positiewe ingesteldheid behou met die aanloop tot die derde Momentum Eendagwedstryd teen Indië op Nuweland. Die Proteas loop met 2-0 agter in die reeks van 6 wedstryde en die tuisspan benodig 'n perfekte 4 uit vier vertoning om die reeks te verower.

Die segetog sal op PPC Nuweland moet begin, waar die Proteas slegs 5 uit 33 wedstryde verloor het. Rabada sê hoewel die span twee lustelose vertonings ingesit het, bly die groep in goeie luim en positief.

“ Dis belangrik dat ons aanhou om die regte seine uit te stuur in die span omgewing," het hy aan die media op Nuweland gesê. "Ons wil positief bly en wil so veel as moontlik momentum in die wedstryd neem. Ons het beslis nie moed opgegee nie."

“ Ek sou nie sê dat daar baie probleme is nie," het hy gesê. "Soms as dinge verkeerd loop, voel dit erger as wat dit is. Mens gaan foute maak en hopelik gaan ons terugkom in die volgende wedstryd en momentum kry."

“In 'n ideale wêreld sal ons baie lopies aanteken en baie paaltjies neem en soms is daar 'n speler wat met 'n briljante vertoning vorendag kom," het Rabada bygevoeg. "Ons het genoeg ervaring om te weet dat in sport mens jou struikelblokke het en enigiets kan gebeur. Ons moet teruggaan, sien waar dinge verkeerd gaan, kalmeer en dinge op die veld reg stel. Ons wil die momentum terughê."

Die Proteas het verskeie terugslae beleef met AB de Villiers, Faf du Plessis en Quinton de Kock, wat almal beseer is. Dit het die tuisspan genoop om na die volgende gros talentvolle kolwers te kyk in die afwesigheid van dié drie strydrosse. Die Multiply Titans paaltjiewagter, Heinrich Klaasen, is gereed om sy buiging agter die paaltjies te maak en is vol selfvertroue na 'n goeie seisoen met die kolf. Hy het die derde meeste lopies in die Momentum Eendagbeker aangeteken - 522 lopies teen 'n gemiddeld van 52.20.

“ Beserings gee ander spelers 'n geleentheid," het Rabada verduidelik. "Ons het ook spelers wat vir 'n geruime tyd goed gevaar het op franchise vlak. Daardie drie spelers wat tans nie speel nie is dalk onvervangbaar op die oomblik maar dis ook 'n geleentheid om die net wyer te gooi en ander spelers aan internasionale krieket bloot te stel."



Kaartjies vir die wedstryd is uitverkoop. Spel begin om 13h00 plaaslike tyd.



Wednesday, 7 February

3rd Momentum ODI

South Africa v India – PPC Newlands 13h00