De Villiers kei teenaanval en plaas Proteas weer weer in stewige posisie

Standard Bank Proteas batsman AB de Villiers

Standard Bank Proteas batsman AB de Villiers

Dis moeilik om te bepaal wie die oorhand het na dag een van die Freedom Reeks op PPC Nuweland en dit sal eers na dag twee duideliker word. Die Standard Bank Proteas het op 12/3 gesteier nadat hulle die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf in toestande wat Bhuvneshwar Kumar bevoordeel het. Gelukkig was AB de Villiers nog voor die penne.

Die Proteas se ou kryger het toe 'n teenaanval geloods wat die toon aangegee het vir die res van die wedstryd. Hy en kaptein, Faf du Plessis, het toe 'n venootskap van 114 gehad wat die Proteas in staat gestel het om 107/3 in die eerste sessie en 123/4 in die tweede aan te teken.

Hul telling van 286 is teen bykans 4 lopies per boulbeurt aangeteken en het onwaarskynlik gelyk na die eerste halfuur se spel.

Teen uitskeityd het Indië 28/3 op die telbord gehad maar het reeds die paaltjie van kaptein, Virat Kohli, verloor. Hy is met Morné Morkel se eerste aflewering kleedkamer toe gestuur nadat Vernon Philander en Dale Steyn van albei Indiese aanvangskolwers ontslae geraak het.

Dis moeilk om te sê wie in beheer is, maar daar het reeds 13 paaltjies gekantel vir 314 lopies en dit lyk nie asof die toestande enigsins makliker gaan raak nie. Die kolfblad raak dalk vinniger en oneweredige wip sal ook later in die wedstryd 'n rol speel.

Dis dalk te vroeg om te oordeel, maar dit lyk asof die afrigter Ottis Gibson, bietjie van 'n Calypso styl aan die span gebring het. Die Proteas het besluit om 4 naatboulers en die draaier Keshav Maharaj in te span. Tweedens het die span ook besluit om te kolf terwyl die boul opsie dalk beter sou wees. Dan het die Proteas ook 39 viere en 2 sesse gemoker, wat 'n inspuiting van R79 500 was vir die Sunfoil Onderwys Trust (SET).

Dit was beslis 'n vermaaklike dag vir die skare van nagenoeg 15 000.

De Villiers en Du Plessis het 10 viere elk gemoker in hul 50-talle voordat Quinton de Kock en Philander 60 om die 6de paaltjie in slegs 9 boulbeurte aangeteken het.

Die eerste 5 venootskappe het 142 bygedra met die laaste vyf 144.

Indië se boulaanval is uitstekend gelei deur Khumar, wat 4/87 in sy 19 boulbeurte geneem het. Jasprit Bumrah, wat sy Toetsdebuut gemaak het, het gespog met die paaltjie van De Villiers terwyl die veelsydige Hardik Pandya ook beïndruk het.

Die besoekers het ook 'n vangkans verbrou. Shikhar Dhawan het vir Maharaj in die glippe misgevang wat hom in staat gestel het om 'n waardevolle 35 aan te teken. Dit kan dalk deurslaggewend wees in hierdie tipe wedstryd.