Bangladesj laat Proteas sweet vir eerste beurt voorsprong

Standard bank Proteas bowler Keshav Maharaj

Standard bank Proteas bowler Keshav Maharaj

BANGLADESJ het verwoed vasgeskop op dag drie van die eerste Sunfoil Toets op Senwes Park en die Standard Bank Proteas se eerste beurt voorsprong in toom gehou. Daarna het hulle die tuisspan weerhou om hul voorsprong vinnig te vergroot.

Toe spel weens swak lig gestaak is was die Proteas nogtans in 'n sterk posisie nadat hulle 'n voorsprong van 176 bewerkstellig het. Die tuisspan het nou 'n algehele voorsprong van 230 met 8 paaltjies staande.

Bangladesj verdien nogtans krediet vir hul dapper vertoning. Tydens die eerste sessie het hulle 91 lopies vir die verlies van slegs Tamim Iqbal se paaltjie aangeteken - Andile Phehlukwayo se eerste in die 5 dag formaat.

Mominul Haque (77 vanaf 150 balle, 12 viere) en Mahmudullah (66 vanaf 124 balle, 11 viere en 'n ses) het goed wal gegooi en was verantwoordelik vir die besoekers wat vier agtereenvolgende venootskappe van meer as 50 kon smee. Ongelukkig kon niemand die honderdtal aanteken wat Bangladesj benodig het nie.

Dit het vir 'n wyle gekyk asof die Proteas net 'n geringe voorsrong sou hê, maar hulle het behoorlik toegeslaan met die nuwe bal en die besoekers het hul laaste 5 paaltjies vir slegs 28 lopies verloor.

Keshav Maharaj het die beste gevaar met die bal (3/92 in 27.1 boulbeurte) en daar was twee paaltjies elk vir Morne Morkel en Kagiso Rabada.

Daar is genoeg tyd oor in die wedstryd vir die Proteas om Bangladesj 'n teiken van meer as 400 te stel. Faf du Plessis se grootste taak sal wees om sy boulers genoeg tyd te gee om die besoekers weer uit te boul. Hy sal hoop dat sy boulers die tweede nuwe bal sal benut en alles dui aan dat hulle vier sessies sal benodig om die taak te voltooi.