Proteas reg vir eerste taak in besige seisoen

POTCHEFSTROOM, SOUTH AFRICA - SEPTEMBER 27: Faf du Plessis of the Proteas during the South African national mens cricket team training session and press conference at Senwes Park on September 27, 2017 in Potchefstroom, South Africa. (Photo by Lee Warren/Gallo Images)

POTCHEFSTROOM, SOUTH AFRICA - SEPTEMBER 27: Faf du Plessis of the Proteas during the South African national mens cricket team training session and press conference at Senwes Park on September 27, 2017 in Potchefstroom, South Africa. (Photo by Lee Warren/Gallo Images)

Faf du Plessis se termyn as kaptein van Suid Afrika in al drie formate begin in alle erns in die eerste Sunfoil Toetswedstryd teen Bangladesj op Senwes Park in Potchefstroom. Die kaptein glo dis die begin van 'n nuwe era vir die Proteas veral omdat afrigter Ottis Gibson ook sy termyn begin.

Die Proteas het 'n besige seisoen wat voorlê, met Bangladesj, Zimbabwe, Indië en Australië wat almal Suid Afrika sal besoek en in 23 wedstryde oor verskillende formate betrokke sal wees. Vir eers sal Potchefstroom gasheer speel in slegs die tweede Toetswedstryd wat hier gespeel sal word.

“Daar word nie gewoonlik baie Toetskrieket hier gespeel nie want daar is ook ander stadions," het Du Plessis aan die media by Senwes Park gesê. "Dis wonderlik vir 'n klein dorp soos Potch om 'n Toets aan te bied. Hopelik sal die studente ons kom ondersteun. Ons gee nie om om die spel na die res van die land te bring nie."

Multiply Titans kaptein, Aiden Markram, sal die 97ste speler sedert hertoelating word om Suid Afrika in 'n Toets te verteenwoordig. Hy sal die kolfbeurt saam met Dean Elgar begin. Die 22-jarige het groot vordering gemaak in plaaslike krieket sedert hy die SA Onder 19 span tot Wêreldbeker glorie in 2014 gelei het. Hy spog tans met 'n gemiddeld van 44.33 in Eersterangse krieket en het 6 honderdtalle en elf 50-talle gemoker.

“ Vir my is dit belangrik dat hy nie alles kop toe vat wat oor hom gesê word nie," het Du Plessis oor die nuweling gesê. "Dis belangrik vir hom om gefokus te bly en om te speel asof hy vir die Titans kolf. Daar is nie ekstra druk op hom nie. Inteendeel, ek sal die druk vir hom probeer verlig sodat hy vryheid het om sy natuurlike spel te speel."

Du Plessis en die res van die kolwers sal poog om te verbeter op hul vertoning van verlede seisoen nadat hulle gesukkel het om honderdtalle aan te teken. Dean Elgar het die enigste hondertal van die reeks teen Engeland aangeteken en dit was 'n teleurstellende aspek van die besoekers se spel.

“ As 'n kolfeenheid het ons nie genoeg lopies aangeteken nie," het hy toegegee. "Daar was moeilike toestande in Engeland. Iemand soos Alastair Cook het gesê dat dit van die moeilikste toestande waarin hy gespeel het in Engeland, en hy het hope ervaring."

“ Ons speel in kondisies by die huis en sal ons moet verbeter en lopies aanteken," het hy bygevoeg. "Dit lyk soos 'n goeie kolfblad en die ouens is goed op dreef. Dit het ook gehelp dat die ouens verlede naweek in die Sunfoil Reeks gespeel het. Dit was lanklaas dat almal beskikbaar was om te speel. Dit het die kolwers gehelp want almal het honderdtalle aangeteken en lopies op die telbord gesit. Dit sal ons baie help in die twee Toetse."

Die wedstryd begin om 10h00 plaaslike tyd.