Vertoning met die kolf baie frustrerend – Amla

Standard Bank Proteas batsman Hashim Amla

Standard Bank Proteas batsman Hashim Amla

Die onvermoë om lank te kolf na 'n goeie begin was weereens die Standard Bank Proteas se doodsteek op dag twee van die 4de Toets teen Engeland op Old Trafford in Manchester. Afgesien van Dean Elgar het die top ses kolwers almal goed afgeskop, maar kon dit nie omskep in noemenswaardige tellings nie.

Kolwer, Hashim Amla, sê die treurmare met die kolf was baie "frustrerend" en die span is weer met die rug teen die muur met hul telling op 220/9, 'n agterstand van 142 lopies.

“ Dit gebeur seker met albei spanne," het hy na die dag se spel gesê. "Die ouens speel hulself in, maar kry nie die groot tellings waaraan ons gewoond is nie. Dis baie frustrerend. Elke speler wil goeie tellings aanteken maar ons kon dit weer nie vandag doen nie. Mens moet krediet gee aan die boulers want hulle het goed geboul. Ek het probeer kyk of ons dalk los houe gespeel het, maar daar was nie te veel nie. Die boulers boulers het goed gedoen."

James Anderson het verwoesting gesaai met boulsyfers van 4/33 en die ander boulers het hom bygestaan en druk op die kolwers behou.

“Die boulers het goed gedoen," het Amla gesê. “ Die kolfblad is aan die stadige kant en daar is bietjie oneweredige wip, so dit maak dinge moeilik om lopies aan te teken. Moeen (Ali) het dieselfde taak verrig wat Keshav (Maharaj) vir ons gedoen het. Hy was baie gedissiplineerd en ons kon nie as 'n eenheid die lopietempo lig nie."

Kagiso Rabada (23*) en Duanne Olivier (0) sal spel hervat op dag drie met die doel om die agterstand so veel as moontlik uit te wis. Spel begin om 11h00 plaaslike tyd.