Maharaj neem leiding om Engeland in toom te hou

Keshav Maharaj of South Africa

Keshav Maharaj of South Africa

KESHAV MAHARAJ was die staatmaker onder 'n relatief onervare Standard Bank Proteas boulaanval om Engeland in toom te hou op die eerste dag van die vierde Toets op Old Trafford in Manchester.

Met beide Vernon Philander en Chris Morris wat weggelaat is weens besering, moes die Proteas 'n vier-man aanval inspan met Theunis de Bruyn en Duanne Olivier wat as plaasvervangers aangewys is.

Maharaj het gevolglik 'n swaarder werkslas as gewoonlik gehad sodat Faf du Plessis sy drie naatboulers kon roteer. Die draaier het uitstekend vertoon en het minder as 2 lopies per boulbeurt in sy 29 boulbeurte afgestaan en ook die belangrike paaltjie van Alastair Cook ingepalm.

Maharaj is stadig maak seker besig om homself te vestig as een van die beste draaiboulers in die wêreld. Sy boulsyfers in 'n kalender jaar is soortgelyk aan Ashwin, Jadeja en Herath en sy tempo per paaltjie is beter as hulle s'n.

Morne Morkel, was die beste naatbouler op die dag en was ongelukkig om nie die paaltjie van Ben Stokes in te palm nie maar Kagiso Rabada het later die linkskolwer met 'n uitmuntende streepbal geflous.

Olivier was stukke beter as op Trent Bridge, hoewel hy baie lopies afgestaan het. Hy het nogtans twee paaltjes ingeoes, wat die belangrike een van Joe Root ingesluit het.

Teen uitskeityd was Engeland op 260/6 met Jonny Bairstow voor die penne en Moeen Ali wat steeds moet kom kolf.

Dis moeilik om te bepaal watter span tans die gelukkigste is. Die Proteas sal bly wees omdat hulle 6 paaltjies plat getrek het, maar ook omdat hulle die Engelse lopietempo onder drie lopies per boulbeurt gehou het. Engeland is nogtans in 'n stewige posisie, veral nadat hulle 'n moeilike oggendsessie oorleef het asook die moeilike periode nadat die tweede nuwe bal beskikbaar geword het.

Engeland se kolwers het drie 50-talle aangeteken, maar dit is 'n aanduiding van hoe hard die kolwers moes werk om lopies aan te teken en dat die boulers die heel tyd gevaarlik was.

Quinton de Kock het ook sy 100ste Toetsslagoffer in slegs sy 23ste Toets ingepalm, gesamentlik die tweede vinnigste van alle tye. Hy het 44 slagoffers vanjaar op sy kerfstok , twee keer meer as enige ander speler.

Dit was ook die jongste span in 'n baie lang tyd wat Suid Afrika in die veld gestuur het. Daar was slegs vier spelers ouer as 30 jaar oud, 'n aanduiding dat baie jong spelers deur die plaaslike sisteem kom.