Du Plessis hoop Elgar se karakter inspireer kolwers

Standard Bank Proteas Test captain, Faf du Pessis,

Standard Bank Proteas Test captain, Faf du Pessis,

Standard Bank Proteas kaptein, Faf du Plessis, sê die kolwers moet inspirasie neem uit Dean Elgar se vegtersbeurt in hul nederlaag van 239 lopies teen Engeland in die derde Toets op die Oval. Elgar is verskeie kere op die hand en lyf raak geboul maar het manmoedig geveg. Sy beurt was een van die min hoogtepunte in 'n andersins teleurstellende vertoning.

Elgar se honderdtal is Suid Afrika se eerste van die reeks en sal die res van die kolflys selfvertroue gee, veral in moeilike toestande teen 'n briljante Engelse boulaanval.

“ Dean het daardie verantwoordelikheid van ons skouers af geneem," het Du Plessis na die wedstryd gesê. " Hopelik kan die kolwers ook vertroue neem want hy het ons gewys hoe om te kolf in Toetskrieket. Dis nooit maklik nie. Mens moet konsentreer en die druk absorbeer, selfs wanneer dit ongemaklik is, soos Dean gewys het. As mens oorleef, bied dit jou 'n geleentheid om lopies aan te teken en om druk van die span af te neem. Dis goed vir ons as 'n eenheid dat hy dit reggekry het en ons sal seker maak dat ons ook probeer doen wat hy gedoen het in die laaste Toets."

Du Plessis gee toe dat sy span met die rug teen die muur was na dag een na die verlies van Vernon Philander, maar glo daar is steeds positiewe aspekte met die aanloop tot die vierde Toets wat Vrydag op Old Trafford in Manchester begin.

“Daar is 'n positiewe dinge om uit daardie wedstryd te neem," het Du Plessis gesê. "Die wyse waarop KG (Rabada) op die laaste dag geboul het, was die KG wat ek ken. Hy is 'n uitstekende bouler vir ons en is 'n belangrike deel van ons boulaanval. KG was goed en Morné Morkel was ook bestendig deur die hele reeks. Ons weet dat ons boulaanval steeds met hulle kan kompeteer, veral omdat talle balle die buiterand geklop het en dinge kon anders gewees het."

“ In terme van kolfwerk was Dean uitstaande in die wedstryd. Hy het 'n groot bydrae gelewer en het 'n goeie honderdtal aangeteken. Dit was belangrik vir hom en sal goed wees as hy dit kan volhou in die volgende Toets."


Elgar het tot dusver die meeste lopies vir die Proteas aangeteken. Sy 286 lopies sluit twee 50-talle en 'n honderdtal in. Om 'n aanvangskolwer te wees bly 'n uitdaging vir hom en motiveer hom om sy beste te lewer.

“ Dit was briljant, dis hoe mens die wedstryd speel," het Elgar uitgebrei oor sy tweestryd met Ben Stokes die vierde dag. "As kind het mens dit net op TV gesien en mens hoor hoe die skare sing en die geleentheid was baie spesiaal. Mens moet net probeer om gemotiveerd te bly en meer veggees toon. Dis fantasties om teen so 'n groot speler te speel. Dit was 'n uitstekende stryd."