Elgar en Bavuma veg terug teen Engeland

DEAN ELGAR het verwoed deurgeloop maar kan steeds môre saam met Temba Bavuma voortkolf nadat hulle die Standard Bank Proteas help terugveg het teen uitskeityd van die vierde dag van die derde Toets op die Oval in Londen.

Engeland is nogtans stewig in die saal nadat hulle die Proteas laat steier het op 117/4. Die Proteas jaag 'n teiken van 492 vir 'n oorwinning vanaf 148 boulbeurte. 'n Oorwinning sal aan die tuisspan 'n 2-1 voorsprong in die reeks gee en dit sal beteken dat hulle ook die Basil d' Oliviera trofee behou.

Op een stadium het dit gelyk asof Engeland die wedstryd op dag vier sou beklink nadat Ben Stokes die paaltjies van Quinton de Kock en Faf du Plessis vanaf agtereenvolgende aflewerings geneem het. Bavuma moes toe die driekuns afweer.

Bavuma het soos in die verlede weer gewys dat hy die regte man is om sake te beredder en het saam met Elgar die beurt stabiliseer. Teen uitskeityd het hulle gedeel in 'n onoorwonne venootskap van 65 lopies om die 5de paaltjie. Elgar is op 72 (111 balle, 11 viere) en Bavuma op 16 (59 balle, 1 vier).

Elgar is verskeie kere op die hand getref en indien hy uiteindelik sy 8ste Toetshondertal aanteken, sal hy dit die harde manier moet doen. Dit is ook sy derde 50-tal in die reeks en hy was beslis Suid Afrika se mees bestendigste kolwer.

Elgar en Bavuma is tans die beste twee kolwers vir die Proteas en hul beste kans om die Toets te red. Die keurders kan dit ook oorweeg om Bavuma op te skuif na die 4de plek vir die laaste Toets op Old Trafford, wat Vrydag begin.

Die Proteas het betreklik goed gevaar met die bal met Keshav Maharaj wat die donkiewerk gedoen het (3/50 in 13.5 boulbeurte) maar die skade was reeds gedoen nadat Engeland 'n eerstebeurt voorsprong van 178 bewerkstellig het. Tom Westley (59 vanaf 141 balle, 11 viere), Joe Root (50 vanaf 94 balle, 6 viere) het daarna net verder hul posisie verstewig.

Stokes was Engeland se beste bouler en het 2/29 binne 8 boulbeurt platgetrek, maar al die Engelse boulers het die kolwers laat bontstaan. Hulle is tans ook meer suksesvol as hul Protea eweknieë deur die bal met reëlmaat op die regte plek te plaas.