Proteas boulers gereed om hard te veg

Dean Elgar

Dean Elgar

Die Standard Bank Proteas se boulers is gereed om hard te werk om die oorblywende 10 Engelse paaltjies in te oes vir 'n oorwinning in die tweede Toets op Trent Bridge. Alastair Cook (0) en Keaton Jennings (0) het vier lewendige boulbeurte oorleef voor uitskeityd en sal teen 'n gemotiveerde boulaanval te staan kom indien hulle die 474 vir 'n oorwinning wil aanteken.

Proteas aanvangskolwer Dean Elgar, sê die nuwe bal sal belangrik wees tydens die eerste sessie, maar glo elke bouler in die aanval sal 'n groot rol speel indien hulle sake wil gelyk maak in die reeks.

“ Dit gaan harde werk wees om die 10 paaltjies in te palm," het hy na uitskeityd gesê. "Dis eintlik perfek vir ons en ons boulers sien uit na die uitdaging. Ons wil nie 'n maklike oorwinning hê nie. Ons wil hard werk vir die oorwinning. Ons is redelik opgewonde."

“Ek dink almal het 'n rol om te speel, maar die nuwe bal gaan deurslaggewend wees vir ons," het hy verduidelik. "Ons het in 4 boulbeurte teen die einde gesien dat daar baie lewe in die kolfblad is. Ons het die boulers wat die toestande kan uitbuit."

“Regdeur die eerste beurt het die boulers hul deel gedoen. Dit maak mens opgewonde want dit wys dat die ouens honger is en oorgehaal is om hul beste te lewer. Hulle wil die taak behoorlik afhandel."

Hashim Amla (87) en Elgar (80) het vasgeskop in die moeilike toestande met 'n venootskap van 135 om die tweede paaltjie. Dit het die platform geskep vir die span se tweede beurt telling van 343/9. Hy het toegegee dat die toestande makliker geword het vir kolfwerk, maar hoop dat die oneweredige wip in hul guns sal tel.

“ Ek hoop die toestande raak moeiliker," het Elgar bygevoeg. "Dit was moeilik, veral in die oggend met die oortrokke toestande. Die bal het baie rondbeweeg teen boulers wat baie goed is om die toestande uit te buit en swaai te kry. Ek en Hash (Amla) moes hard werk en ons kon nie vinning lopies aanteken nie, maar dis die aard van die spel. Dit raak stadiger en hopelik verweer die koflblad meer en bevoordeel ons."