Sake gelyk na dag een - De Kock

Standard Bank Proteas batsman Quinton de Kock

Standard Bank Proteas batsman Quinton de Kock

Standard Bank Proteas paaltjiewagter en kolwer, Quinton de Kock, sê sake is taamlik gelyk na die eerste dag van die tweede Toets teen Engeland op Trent Bridge. Die Proteas het van 'n ineenstorting herstel en het teen uitskeityd 309/6 op die telbord gehad. Vernon Philander (54*) en Chris Morris (23*) was in 'n venootskap van 74 om die 7de paaltjie betrokke om sake vir die besoekers te beredder.

Die kans om 'n reuse eerste beurt telling aan te teken berus nou op die twee veelsydige spelers met slegs Keshav Maharaj wat oorbly as 'n opsie met die kolf. Elke lopie sal dus belangrik wees.

“ Dinge was maar op en af," het De Kock oor die dag se spel gesê. "Ons het een sessie gewen en die volgende was weer Engeland s'n. Dit het wipplank gery. Ons het fases gehad waarin ons goeie krieket gespeel het en ons sou beter wou vaar. Dis maar hoe die spel werk en mens kan nie alles kry wat jy wil hê nie."

“ Dag twee is 'n belangrike dag vir ons," het hy bygevoeg. "Vernon en Morris het ons in 'n goeie posisie geplaas en ons sal daaruit moet munt slaan."

Hashim Amla (78) en De Kock (68), aanvangskolwers in Eendagkrieket, het 113 om die 3de paaltjie gemoker en teen 'n gesonde tempo van 4.61 per boulbeurt gekolf. Amla was meer beredeneerd in sy kolfbeurt met De Kock wat meer aanvallend was teen goeie boulwerk van James Anderson en Stuart Broad. Die 24-jarige sê die besluit om hom na nommer 4 te skuif was 'n goeie besluit en hy het die uitdaging aanvaar.

“ Ek wou nog altyd bietjie hoër kolf," het hy gesê. "Weens die komposisie van die span was dit nie altyd for moontlik nie, maar hier was nou 'n geleentheid en ek wou die geleentheid aangryp."

“Ek het nie my wedstrydplan verander nie," het De Kock oor sy benadering bygevoeg. "Dinge was dalk bietjie moeiliker met die nuwe bal, maar ek het selfvertroue gehad en wou dinge so eenvoudig as moontlik hou."

Spel sal om 11:00 plaaslike tyd begin.