Min blaaskans vir Proteas voor tweede kans

Morne Morkel

Morne Morkel

Die Standard Bank Proteas gaan nie veel tyd hê om hul wonde te lek na hul nederlaag met 211 lopies teen Engeland op Lord's nie want die fokus verskuif nou na Nottingham met die aanloop tot die tweede Toets op Trent Bridge. Die Protea snelbouler Morné Morkel se die kort rusperiode tussen wedstryde sal hulle help om te fokus op hul dissiplines. Dit was een van die teleurstellings van die eerste wedstryd en hulle is gefokus op sake gelyk te maak in die reeks.

“ Ons het twee dae in Londen gehad om oor die nederlaag te kom," het hy aan die media op Trent Bridge gesê. "Toe ons op die bus klim na Nottingham was dit belangrik dat ons dit agterweë skuif en vorentoe kyk na Vrydag. Ons het twee oefensessies gehad en dis belangrik vir ons as individue om uit te werk wat ons vorentoe wil vermag."

“Daar is nie baie tyd nie en mens wil nie te veel jou energie mors op onnodige dinge nie. Die beste ding vir ons is om die basiese dinge reg te doen en op die dinge te fokus wat ons kan beheer. Dit is hoe ons die dag begin het en ons sal dinge so opbou todat ons Vrydag goed kan speel."

Die boulaanval sal baie selfvetroue neem uit die hul vertoning tydens die Engelse tweede beurt toe hulle met meer intensiteit geboul het en die laaste nege Engelse paaltjies vir slegs 114 lopies laat kantel het. Morkel sê die aantal foutballe was onaanvaarbaar en die boulers fokus op hul voorbereiding.

“ Hoe meer ons geboul het met die rooi bal, hoe beter het ons gevaar," het hy verduidelik. "Dit het goed begin op dag een en as ons meer paaltjies na ete ingepalm het, was ons in 'n sterk posisie. Ongelukkig het ons nie vinnig genoeg aangepas nie en ons het lopies afgestaan. Ons het teruggeveg in die tweede beurt en is die taak gestel om 300 vir 'n oorwinning aan te teken, maar ongelukkig kon ons nie die knoop deurhaak nie."

“ Die foutballe was onaanvaarbaar want ons kan dit beheer," het hy voortgegaan. "Ek het baie ritme en tydsberekening nodig. Hoe meer ek boul in 'n wedstryd, hoe beter is my ritme. Dit was jammer dat ek daardie foutbal geboul het, want mens gee nie vir spelers soos Joe Root en Ben Stokes te veel geleenthede nie. Hulle gaan jou beslis straf. Die enigste ding waaraan ek nou werk is om my voet agter die lyn te hou."

Morkel is die mees ervare bouler in die aanval met 260 Toetspaaltjies in 75 wedstryde. Hy sal die aanval moet lei in die tweede Toets, veral in die afwesigheid van Kagiso Rabada, wat vir een wedstryd geskors is.

“Ek het steeds 'n rol as 'n senior speler om die aanval te lei," het hy gesê. "Ons gaan KG (Rabada) mis want hy kan lang skofte boul met hope spoed en energie. Ons gaan dit mis. Dis weereens 'n geleentheid vir 'n ander speler om sy stempel af te druk. As 'n bouleenheid moet ons nou vergeet van die eerste Toets en fokus op Vrydag."