CSA wens Proteas geluk op ns toer sukses

Haroon Lorgat (CSA CEO)

Haroon Lorgat (CSA CEO)

KRIEKET SUID AFRIKA (CSA) het die Standard Bank Proteas geluk gewens nadat hulle skoonskip gemaak het op hul toer deur Nieu-Seeland waar hulle die eenmalige T20 wedstryd, asook die Eendagreeks 3-2 en toe die Toetsreeks met 1-0 gewen het.

“Hoewel reën die laaste dag in die wiele gery het en die Toetsreeks vir ons verseker het, verdien die Proteas alle eer na nog 'n uitmuntende vertoning oorsee en 'n Somer van briljante vertonings," het die Bestuurshoof van Krieket Suid Afrika, Haroon Lorgat, gesê.

“Dis nie maklik om die Swart Pette in hul eie agterplaas te klop nie. Mens moet net terugkyk na die 2015 Krieketwêreldbeker toe hulle die eindstryd gehaal het. Ons is nou die enigste span wat hulle hierdie seisoen tuis in enige formaat kon klop."

"Veels geluk aan ons hoofafrigter Russell Domingo, ons twee kapteins, Faf du Plessis en AB de Villeirs en al die spelers en bestuurspan vir hierdie ongelooflike prestasie deur Nieu-Seeland tuis en oorsee te klop. As mens die Eendagreeks teen Australië in ag neem, die Toetsreeks teen die Aussies in Australië en die reekse teen Sri Lanka, het die span briljante krieket oor 'n baie lang periode gespeel. Dis besonder merkwaardig dat die span vanaf die nommer 7 posisie na die nommer 2 posisie op die Toetsranglys kon opskuif."

“Veels geluk aan die span met hul voorbereiding vir hul toer na Engeland waar hulle die gaan poog om die Basil d'Oliviera trofee te herwin en ook aan die Kampioenskapstrofee gaan deelneem."

“Ons kan beslis die toekoms met selfvetroue en optimisme betree," het Mnr.Lorgat afgesluit."