Proteas wen reeks na reen spel in die wiele ry

Reën was die groot wenner op die laaste dag van die Standard Bank Proteas se Internasionale seisoen na spel afgelas was op die laaste dag van die derde Toets teen Nieu-Seeland op Seddon Park in Hamilton. Die wedstryd het dus onbeslis geëindig.

Die uitslag het verseker dat Suid Afrika die reeks met 1-0 wen nadat hulle die tweede Toets in Wellington met 8 paaltjies verseël het. Dit het 'n droomeinde gebring aan die seisoen nadat hulle al hulle reekse gewen het. Die Proteas het ook opgeskuif na die tweede plek op die Internasionale Kriekraad se ranglys nadat hulle in Augustus verlede jaar in die 7de posisie was.

Maar dit was 'n teleurstellende einde tot die toer vir die Swart Pette, wat stewig in die saal was met die aanloop tot Dag 5 voordat die weer hulle planne in die wiele gery het.

Meer as 50 mm se reën het oornag neergesak en dit het die buiteveld sopnat gelaat.

Hoewel die reën vir periodes opgebou het, het dit elke keer weer begin en die skeidsregters Bruce Oxenford en Rod Tucker het geen opsie gehad as om die wedstryd af te las nie.

Die Proteas was met die rug teen die muur op 80/5 in hul tweede beurt en het steeds 'n agterstand van 95 gehad. Hul hoop was geplaas op Faf du Plessis en Quinton de Kock, albei op 15, maar hulle was nie verder benodig nie.