Proteas bereid om hard te baklei- BIrrell

Standard Bank Proteas batsman Quinton  de Kock

Standard Bank Proteas batsman Quinton de Kock

Die Standard Bank Proteas sal hul ervaring en veggees moet inspan om die derde Toets teen Nieu-Seeland op Seddon Park in Hamilton te red. Die span het dit in die verlede al reggekry, teen Australië in Adelaide in 2012 en teen Indië in Johannesburg in 2013. Hierdie vertonings het die hulpafrigter, Adrian Birrell, hoop gegee dat die geskiedenis homself kan herhaal.

Die Proteas sal bly hoop terwyl die kaptein, Faf du Plessis, voor die penne bly. Du Plessis was deurslaggewend om die wedstryd in Adelaide te red en saam met de Kock- wat die Proteas se beste kolwer is in die reeks- hou hulle die sleutel tot die besoekers om die oorblywende 98 boulbeurte in die wedstryd te oorleef.

“Ons was al voorheen in hierdie posisie," het Birrell in Hamilton gesê. "Ons sal daardie ervaring gebruik en ons sal veg. Ons het 'n kaptein wat vasberade is want hy was al in hierdie posisie. Ons praat daarvan in die kleedkamer dat ons nog nie die wedstryd verloor het nie. Ons het 'n agterstand van 95 lopies en daar is 98 boulbeurte oor. Ons hoop dat die wedstryde in die verlede ons sal inspireer en dat ons sal aanhou veg."

Birrell gee toe dat die vertoning van die toporde teleurstellend was, maar hoop dat die stertkolwers weer sal wal gooi en die span uit 'n benarde posisie sal red. Terwyl Du Plessis die ingesteldheid het om anker te gooi, is De Kock aangeraai om sy natuurlike spel te speel wat hom soveel sukses gedurende die reeks gebring het.

“Ons moet nie net ons paaltjies beskerm nie," het Birrell verduidelik. "Ons moet ook lopies aanteken. As mens na die vorige wedstryd kyk, het Quinton en Temba (Bavuma) 160 lopies aangeteken teen meer as 4,3 lopies per boulbeurt. Dit het die konteks van die wedstryd verander. Ons kyk na De Kock om lopies aan te teken. Om in 'n dop te kruip is seker die ergste vir hom.

“Ons het twee goeie kolwers voor die penne en Vernon (Philander), wat 'n Toetshonderdtal kan aanteken. Môre is dalk die dag wat hy dit regkry. Daar is nog baie veggees in die kolwers wat nog moet kom kolf."

Du Plessis (15) en De Kock (15) sal die beurt hervat op 80/5, met 'n agterstand van 95 lopies. Spel sal om 10:30 begin (23:30 SA Tyd).