Proteas voer opdraende stryd in Hamilton toetd

Kagiso Rabada and the Proteas celebrate a wicket.

Kagiso Rabada and the Proteas celebrate a wicket.

Die Standard Bank Proteas sal hul stertkolwers benodig om hulle vir 'n laaste keer te red op die laaste dag van hul toer deur Nieu-Seeland nadat hul toporde lelik gefaal het op dag vier van die derde Toets in Hamilton.

Op 'n dag wat deur die tuisspan oorheers is, het Suid Afrika teen uitskeityd op 80/5 gesteier nadat die Swart Pette 489 in hul eerste beurt aangeteken het. Suid Afrika het steeds 'n agterstand van 95 en bevind hulself in hierdie situasie na swak houekeuses en nadat 'n kolwer ook uitgehardloop is.

Die drama het tydens die laaste sessie begin toe Dean Elgar met sy telling op 5 agter die paaltjies deur BJ Watling uitgevang is. Theunis de Bruyn se nagmerrie debuut het tot 'n einde gekom toe hy uitgehardloop is vir 12. De Bruyn het 'n nulletjie in die eerste beurt aangeteken en was in 'n botsing met Hashim Amla betrokke om aan die tuisspan hul tweede paaltjie te besorg.

Amla (19) moes toe toekyk hoe sy kaphou in die glippe geëindig het voordat JP Duminy deur 'n reguit aflewering geflous is en deur Patel skoongeboul is.

Temba Bavuma (1) het 'n powere dag vir Suid Afrika afgesluit toe Matt Henry die buiterand van sy kolf gekry het en die Proteas was op 59/5 teen die planke.

Dit het Faf du Plessis en Quinton de Kock, albei op 15, bymekaar gebring en hulle sal alles in die stryd moet werp om vas te klou aan hul 1-0 voorsprong in die reeks in hul laaste wedstryd van die 2016/17 seisoen.

Vroeër het Nieu-Seeland hul goeie vertoning met die kolf voortgesit met Kane Williamson wat uiteindelik 176 (285 balle, 16 viere, 3 sesse) aangeteken het. Dit was ook die hoogste individuele telling deur 'n Nieu-Seelandse speler teen Suid Afrika op eie bodem.

Mitchell Santner (41) het 88 lopies saam met sy kaptein bygedra terwyl Colin De Grandhomme sy hoogste telling van 57 (70 balle, 5 viere en 2 sesse) gemoker het teen 'n duidelik uitgeputte boulaanval.

Die boulers het nogtans hul dissipline handhaaf op 'n mak kolfblad, met Morné Morkel wat 4/100 platgetrek het. Kagiso Rabada het 4/122 laat kantel, voordat die tuisspan hul eerste beurt voorsprong van 175 behoorlik uitgebuit het op Seddon Park.