Morkel se 250ste paaltjie was harde werk

Morne Morkel of South Africa bowls during day three of the Test match between New Zealand and South Africa at Seddon Park on March 27, 2017 in Hamilton, New Zealand. (Photo by Dave Rowland/Getty Images)

Morne Morkel of South Africa bowls during day three of the Test match between New Zealand and South Africa at Seddon Park on March 27, 2017 in Hamilton, New Zealand. (Photo by Dave Rowland/Getty Images)

Morne Morkel sal die dag onthou wat hy sy 250ste Toetspaaltjie ingepalm het as een van bloedsweet op dag drie van die derde Toets teen Nieu-Seeland op Seddon Park in Hamilton. Die lenige naatbouler het slegs die 6de Suid Afrikaner geword om dié mylpaal te bereik na Shaun Pollock (421), Dale Steyn (417), Makhaya Ntini (390), Allan Donald (330) en Jacques Kallis (291).

Morkel het as 'n 22-jarige sy debuut gemaak teen 'n Indiese span wat gespog het met superstêrre soos Virender Sehwag, Rahul Dravid, Sachin Tendulkar, VVS Laxman, Sourav Ganguly en MS Dhoni. Elf jaar later het hy steeds 'n reuse taak om te verrig om die Proteas te help om die Toets te red, met twee dae se spel oor.

“Dit was 'n moeilike dag in die veld," het hy na die dag se spel gesê. "Die buiteveld was baie swaar na die hewige reën en dit was harde werk, maar ek is steeds gelukkig met my vertoning met die bal. Toe ek 11 jaar gelede my eerste boulbeurt na Sachin Tendulkar moes boul, was ek baie senuweeagtig en nou het ek 250 paaltjies, so ek is gelukkig."

Nieu-Seeland se toporde was meer gedissiplineerd na hul swak vertoning in Wellington, met kaptein Kane Williamson wat die beurt geanker het met 'n onoorwonne 148. Williamson se paaltjie hou die sleutel tot 'n oorwinning vir die Proteas, veral omdat daar min tyd oor is in die wedstryd.

“Hulle is 'n uitstekende span met goeie spelers," het Morkel oor die kolwers gesê. "Hulle het die bal baie goed met rus gelaat en was geduldig. Hulle wag toe vir ons om aan te val en het het toe lopies aangeteken. Die kolfblad is bietjie sagter en sodra dit gebeur is dit makliker om lopies aan te teken. Mens moet hulle krediet gee want Kane was uitmuntend en die aanvangskolwers het baie goed gespeel."

“Die realiteit is dat hulle ons telling verby gesteek het," het hy oor die wedstryd gesê. "Daar is net een span wat onder druk is, en dit is ons. Ons sal die wedstryd nou met die regte ingesteldheid benader en die kolwers sal in die tweede beurt hul ding moet doen. Hulle sal hard veg vir 'n oorwinning in die tweede beurt."

“As 'n span praat ons altyd in die kleedkamer dat ons geestelik sterk moet wees en dit sal 'n wonderlike einde van die seisoen wees as ons die nederlaag kan afweer."

Nieu-Seeland sal hul beurt hervat op 321/4 met 'n voorsprong van 7 lopies. Spel sal om 10:30 plaaslike tyd (23:30 SA tyd) begin.