Bavuma vind sy styl in verskillende Nieu-Seelandse toestande

Standard Bank Proteas batsman Temba Bavuma

Standard Bank Proteas batsman Temba Bavuma

Standard Bank Proteas kolwer, Temba Bavuma, het sy eie styl ontwikkel om aan te pas by die verskillende toestande in Nieu-Seeland in die huidige reeks. Bavuma het stewig vertoon in die stadiger toestande in Dunedin, wat heeltemal anders is as die vinniger kolfblad met sy hope wip by die Bidvest Wanderers in Johannesburg.

“Die toestande hier is beslis anders as wat ons by die huis aan gewoond is," het hy aan die media by die Basin Reserve gesê. "Die blaaie is bietjie stadiger en het nie baie wip nie en die wind speel ook 'n reuse faktor. Ek pas my spel aan om by al daardie faktore aan te pas."

Bavuma sê hy neem baie selfvetroue uit sy beurt van 64 wat hy onder groot druk in Dunedin aangeteken het, maar is honger vir nog meer lopies. Hy meen dis sy sterk sielkundige voorbereiding wat tot sy goeie vorm gelei het nadat hy 'n moeilike reeks teen Sri Lanka gehad het.

“Ek voel wel dat ek my ritme met die kolf terugkry," het hy toegegee. "Ek is baie bly om weer onder die lopies te wees want dinge het voor dit moeilik gegaan. Ek hoop om nou die selfvertroue in die volgende Toets te neem."

“Mens is nooit gelukkig om net 50 of 60 aan te teken nie selfs al doen jy dit vir die span en jy kolf in die middelorde. Jy wil groot lopies aanteken sodat jy jou span in 'n sterk posisie plaas. Ek sal baie selfvertroue neem uit Dunedin en net myself geniet."

“Sielkundig is ek reg vir die stryd," het hy bygevoeg. "Ek verstaan dat ons weer onder druk sal wees en ons sal 'n weg moet vind om uit daai situasies te kom. My probleme was niks tegnies nie, maar meer van sielkundige aanpassing."

Dane Piedt Nader geroep vir die derde Toets.

Die draaibouler Dane Piedt, is ingesluit in die Standard Bank Proteas se groep vir die derde Toets in Hamilton as 'n verdere opsie. Piedt sal hom by die groep aansluit tydens die tweede Toets wat Donderdag in Wellington begin en wag op goedkeuring van sy visa.

Die 27-jarige het sewe Toetswedstryde vir Suid Afrika gespeel, met die laaste in Augustus verlede jaar in Centurion toe die Proteas Nieu-Seeland met 204 lopies geklop het.

Die derde Toets word op Seddon Park in Hamilton op die 25ste Maart gespeel.