Maharaj se 5 paaltjies hou die Proteas in die prentjie

Keshav Maharaj celebrates a wicket.

Keshav Maharaj celebrates a wicket.

Die linksdraaier Keshav Maharaj het vir die eerste keer in sy Toetsloopban 5 paaltjies platgetrek om die Standard Bank Proteas binne trefafstand te hou van Nieu-Seeland op dag drie van die eerste Toets in Dunedin.

Met die tuisspan wat gedreig het om 'n goeie eerste beurt voorsprong daar te stel danksy Kane Williamson se uitstekende honderdtal, het Maharaj die laaste drie paaltjies laat kantel om te eindig met syfers van 5/94. Nieu-Seeland is uitgeboul vir 'n eerste beurt telling van 341.

Met 'n agterstand van 33, het die Proteas die paaltjie van Stephen Cook met die vierde bal van die tweede beurt verloor toe hy vir 'n nulletjie moes terugstap kleedkamer toe. Die skeidsregter het beslis dat hy agter die paaltjies uitgevang is, maar hy het besluit om nie die "kykweer" in te span nie. Televisie herhalings het getoon dat die bal sy beenskut geraps het instede van sy kolf.

Dean Elgar (12) en Hashim Amla (23) het die vroeë terugslag oorleef asook 'n onderbreking van 20 minute nadat 'n brandalarm by die stadion aktiveer is. Teen uitskeityd het Suid Afrika 38/1 op die telbord gehad.

Albei kolwers het aanvanklik stadig begin en net toe Amla sy voete begin vind, het swak lig spel vroeg tot 'n einde gebring, met die Proteas wat 'n voorsprong van 5 lopies het.

Op die ou end was sake taamlik gelyk nadat Nieu-Seeland die dag begin het op 177/3, met Williamson op 78.

Die naguiltjie Jeetan Patel is deur Vernon Philander in die derde boulbeurt van die dag uitgehaal, terwyl James Neesham kort daarna Morne Morkel se eerste Toetsslagoffer in meer as 14 maande geword het.

Williamson en BJ Watling het daarna gedrieg om Suid Afrika uit die wedstyd uit te kolf toe hulle 84 om die 6de paaltjie bygedra het, maar met die telling op 277/5 het Kagiso Rabada die belangrikste paaltjie van die dag ingepalm.

Rabada het oor die laaste paar dae gesukkel met 'n maag virus, maar het met 'n vinniger aflewering vorendag gekom en het die buiterand van Williamson se kolf gekry met sy telling op 130.

Morkel het toe van Mitchell Santner ontslae geraak voordat Maharaj vir Watling skoongeboul het met sy telling op 50.

Hoewel Neil Wagner die tuisspan die voortou laat neem het met 'n agressiewe 32, het Maharaj ook die laaste twee Nieu-Seelandse paaltjies ingepalm om die skade te beperk.

Met die kolfblad wat al hoe meer verbrokkel en verskeie aflewerings wat op en af beweeg, sal Maharaj 'n reuse rol speel in die vierde kolfbeurt-mits die weer dit toelaat.

Hoewel 'n oortrokke dag vir Saterdag voorspel word sonder enige reën, blyk die kanse skraal dat Sondag 'n volle dag se spel sal hê.