Proteas moet aanpas by Eden Park – Morris

Chris Morris.

Chris Morris.

Die Standard Bank Proteas se boulers sal kreatief moet wees met hoe hul aanpas by die dimensies op Eden Park in hul eenmalige T20-wedstryd Vrydag teen Nieu-Seeland. Die meerdoelige stadion, wat reguit grense van tussen 45-55 meter het, is 'n groot uitdaging. Al die boulers, afgesien van Imran Tahir, sal vir die eerste keer op Eden Park speel.

Proteas snelbouler, Chris Morris, sê die boulaanval sal planne om moet maak om aan te pas by die toestande en die kleiner grense, met reën wat vir Vrydagaand voorspel word.

“Dit is my eerste keer in Nieu-Seelland en dit was bietjie van 'n skok toe ek hier aankom en die reguit grense sien," het hy aan die media in Auckland gesê. "Elke stadion is uniek en dis iets waaraan ons gewoond moet raak. Ons sal bietjie oefen en kyk wat gebeur in sekere areas. Dinge is altyd anders maar mens sal moet aanpas by enige stadion en die toestande."

Morris begin die reeks vol selfvertroue nadat hy 4/31 in die 5de Momentum Eendagwedstryd teen Sri Lanka laat kantel het. Hy het benadruk dat hy die reeks goed wil afskop weens die kort rusperiode tydens wedstryde. Boonop is Dinsdag se opwarmingswedstryd ook afgelas weens aanhoudende reën.

“Daar is natuurlik positiewe aspekte," het Morris uitgebrei oor die wedstryd wat afgelas is. "Ons wou baie graag speel, maar ons het die afgelope weke baie krieket gespeel, so dit was goed om 'n blaaskans te kry. Dit was ook lekker om gimnasium toe te gaan en om die fisio te besoek. Dit was eintlik 'n bedekte seën."

“Ons sal dinge eenvoudig moet hou," het hy benadruk. "Ons het almal aanvaar dat daar min ruskans tussen wedstryde is en daar gaan nie baie tyd wees om te herstel nie. Ons gaan geen verskonings maak nie. Ons weet ook die ouens gaan bietjie vlugflou wees, maar op die veld sal ons ons beste moet lewer."

Die Proteas se laaste wedstryd op Eden Park was die dramatiese nederlaag met 4 paaltjies teen die mede-gasheer tydens die Wêreldbeker halfeindstryd in 2015. Hulle het egter die laaste T20-wedstryd tussen die twee spanne hier in 2012 gewen. Die wedstryd begin om 19:00 plaaslike tyd.