CSA wens Proteas geluk met No.1 posisie

KRIEKET SUID AFRIKA (CSA) het die Standard Bank Proteas geluk gewens nadat hulle in agtereenvolgende reekse skoonskip gemaak het en sodoende die No. 1 posisie op die Internasionale Krieketraad se ranglys herwin het.

“Dit is 'n ongekende jaar in die geskiedenis van ons Eendagkrieket," het die Bestuurshoof van Krieket Suid Afrika, Haroon Lorgat, gesê. "Dis amper presies 'n jaar (Februarie 9, 2016) sedert ons ons huidige segetog begin het. Sedertien het die span 14 agtereenvolgende eendagwedstryde op eie bodem gewen. Dit is 'n aanduiding van hoe professioneel die span is wat talle individuele en span hoogtepunte insluit."

“Dis baie raar om in agtereenvolgende reekse skoonskip te maak en om dit teen Australië en Sri Lanka, albei voormalige Wêreldkampioene te doen, is 'n fantastiese prestasie."

“Dit voorspel goeie dinge vir ons opkomende toere na Nieu-Seeland en Engeland, asook die Kampioenskapstoernooi."

“Baie geluk aan kaptein AB de Villiers, plaasvervanger kaptein Faf du Plessis, hoofafrigter Russell Domingo en al die spelers en spanbestuur. Du Plessis het ook die tweede Protea na Hashim Amla geword om 400 lopies in 'n Eendagreeks van 5 wedstryde aan te teken en hy verdien ook al die lof."

“Ons wens die Proteas alles van die beste wanneer hulle na Nieu-Seeland vertrek," het Mnr. Lorgat afgesluit.