Amla ed de Kock help Proteas tot 5-0 reeksoorwinning en No.1 posisie

Proteas celebrate

Proteas celebrate

QUINTON DE KOCK en Hashim Amla was albei weer op hul stukke op SuperSport Park toe albei honderdtalle aangeteken het en 187 om die eerste paaltjie gemoker het. Die het die grondslag gelê vir die Standard Bank Proteas om Sri Lanka met 88 lopies te verslaan in die laaste Momentum Eendagwedstryd.

Sodoende het hulle die reeks met 5-0 beklink en beklee ook nou die nommer 1 posisie op die Internasionale Krieketraad se ranglys. Die Proteas het ook verlede jaar met 5-0 met Australië klaar gespeel.

De Kock, het 109 van 87 balle aangeteken wat 16 viere ingesluit het terwyl Amla 154 van 134 balle met 15 viere en 5 sesse gemoker het. Albei het nou gesamentlik nege honderdtalle op Centurion aangeteken. Dit was ook De Kock se 12de honderdtal en sy 9de 50-tal.

Amla is nou saam met Sachin Tendulkar en David Warner een van slegs drie spelers wat vier of meer tellings van 150 of meer aangeteken het. Dit was ook Amla se 50ste honderdtal vir Suid Afrika, wat 24 Eendaghonderdtalle en 26 Toetshonderdtalle insluit.

Vroeër is die Proteas gevra om eerste te kolf en het Sri Lanka 'n teiken van 385 gestel vir 'n oorwinning. Dit is die tweede hoogste telling op SuperSport Park en die hoogste ooit teen Sri Lanka.

Die vennootskap tussen De Kock en Amla was die hoogste aanvangsvenootskap teen Sri Lanka, en het die 150 tussen Gary Kirsten en Andrew Hall verbeter.

Die toporde van Sri Lanka het hul paaltjjies behoorlik weggegooi. Instede daarvan om venootskappe te bou, het hulle slegs venootskappe van 10 of 20 gehad. Hulle het na 9 boulbeurte op 70/4 gesteier en die koeël was toe reeds deur die kerk.

Daar was goeie weerstand van Asela Gunaratne en Sachith Pathirana wat 93 om die 6de paaltjie aangeteken het voordat Gunaratne 'n welverdiende honderdtal (114 van 117 balle, 14 viere en 2 sesse) gemoker het.

Vanuit 'n Suid Afrikaanse oogpunt het Chris Morris uitgeblink met die bal en 4/31 laat kantel. Hy het met spoed geboul en sal nog beter kan vaar op die toer na Nieu-Seeland.

Amla is as die Momentum Speler van die Wedstryd aangewys en Faf du Plessis Momentum Speler van die Reeks. Hy het meer as 400 lopies aangeteken, wat twee honderdtalle ingesluit het. Hy het dus die vertoning van Amla tydens die reeks, teen die Wes Indiese Eilande, ewenaar.