Proteas maak dit 4-0 Tharanga laat hulle sweet

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 07: Proteas celebrates during the 4th ODI between South Africa and Sri Lanka at PPC Newlands	 on February 07, 2017 in Cape Town, South Africa. (Photo by Carl Fourie/Gallo Images)

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 07: Proteas celebrates during the 4th ODI between South Africa and Sri Lanka at PPC Newlands on February 07, 2017 in Cape Town, South Africa. (Photo by Carl Fourie/Gallo Images)

FAF DU PLESSIS het een van die kolfbeurte van sy loopbaan gespeel maar moes daarna toekyk hoe Sri Lanka se kaptein, Upul Tharanga, amper sy aand versuur in die 4de Momentum Eendagwedstryd op PPC Nuweland.

Op die ou end het die Standard Bank Proteas met 40 lopies geseëvier om hulle segetog tuis na 13 wedstryde te verleng, maar die tuisspan moes ook behoorlik naelskou. Sri Lanka was nog in die prentjie tot en met die 44ste boulbeurt toe Kagiso Rabada oudergewoonte die venootskap van 79 om die 5de paaltjie tussen Sandun Weerakkody en Asela Gunaratne verbreek het. Daarna het Sri Lanka in duie gestort en hul laaste 6 paaltjies vir slegs 20 lopies binne 27 aflewerings verloor.

Vroeër het Du Plessis die tweede hoogste telling deur 'n Protea in 'n Eendagwedstryd aangeteken. Hy het 185 (141 balle, 16 viere en 3 sesse) aangeteken met slegs Gary Kirsten se 188 teen die Verenigde Arabiese Emirate by die Krieketwêreldbeker in 1996 wat beter is. Dit het Sri Lanka die taak gestel om 368 aan te teken vir 'n oorwinning met die besoekers wat in hul vorige wedstryde nie een keer meer as 200 kon aanteken nie.

Du Plessis het nou die 9de Protea geword om 'n telling van 150 of meer aan te teken. Hashim Amla het dit al drie keer vermag en Herschelle Gibbs twee keer. Trouens, al top 5 in die Protea kolflys- Amla, Quinton de Kock, Du Plessis, AB de Villiers en JP Duminy het dit nou al reggekry.

Die Proteas se telling was die hoogste ooit op PPC Nuweland en hulle het vir die tweede agtereenvolgende wedstryd meer as 300 hier aangeteken. Hulle het ook 327/8 teen Australië verlede jaar hier gemoker.

Die Proteas het dalk gedink dat die wedstryd in die sakkie is nadat hulle gekolf het, maar Tharanga het ander planne gehad. Hy en sy aanvangsmaat, Niroshan Dickwella, het presies 100 in 10 boulbeurte aangeteken, wat 13 viere en 4 sesse ingesluit het. Teen dieselfde tydperk het die Proteas 59/1 op die telbord gehad. Hy het op die ou end 119 (90 balle, 11 viere en 7 sesse) aangeteken.

Tharanga het al in die verlede soortgelyke vertonings gelewer. Hy en die legendariese Sanath Jayasuriya het in 2006 op Headingley 286 in 32 boulbeurte gemoker en het saam met Mahela Jayawardene 213 in 38 boulbeurte om die eerste paaltjie teen Indië in 2003 aangeteken. In laasgenoemde wedstryd het die paar 133 in die eerste 10 boulbeurte aangeteken!

Sri Lanka was vir lang periodes voor die benodigde lopietempo en De Villiers moes hom na Wayne Parnell wend om die wa deur die drif te trek. Hy het beide Kusal Mendis en Tharanga kleedkamer toe gestuur en 2/8 in 3 boulbeurte laat kantel. Rabada het hom toe ondersteun met 1/19 in drie boulbeurte, wat 'n verbroude vangkans ingesluit het.

Albei spanne moes naelskou en dit het gelyk asof Sri Lanka die knoop sou deurhaak nadat die Proteas nog 'n vangskoot verbrou het om die venootskap om die 5de paaltjie te verleng.

Maar die wedstryd het in die guns van die Proteas geswaai toe Rabada weer toegeslaan het en Imran Tahir wat twee paaltjies in sy laaste boulbeurt ingeoes het. Dwaine Pretorius het ook een paaltjie laat kantel voordat Parnell korte mette van die stert gemaak het om te eindig met indrukwekkende syfers van 4/58.

Dit was een van die beter wedstyde op Nuweland en 'n oorwinning vir Sri Lanka sou meer beteken as hul onlangse sukses in die T20 reeks. Hulle het hul spelpeil gelig teen 'n Protea aanval wat bykans op volle sterkte was.

Du Plessis is as die Momentum Speler van die Wedstryd aangewys maar dit was 'n aand waarin die toekenning maklik gedeel kon gewees het.