Proteas gefokus om skoonskip te maak

Standard Bank Proteas batsman Stephen Cook

Standard Bank Proteas batsman Stephen Cook

Die Standard Bank Proteas begin weer fokus op die moontlikheid om skoonskip te maak in die reeks van drie teen Sri Lanka wanneer die derde Sunfoil Toets Donderdag op die Bidvest Wanderers begin. Die Proteas het in Johannesburg aangekom nadat hulle 'n onaanvegbare 2-0 voorsprong in die reeks geneem het en die besoekers met 282 lopies op PPC Nuweland verpletter het. Hulle is oorgehaal om hul oortuigende vertonings voort te sit, veral op 'n stadion wat hulle soos 'n handskoen pas.

Die groep het ook die bykomende voordeel dat verskeie spelers die toestande in Johannesburg baie goed ken. Die aanvangskolwer Stephen Cook speel vir die afgelope 17 jaar op die Wanderers. Hoewel daar baie reën oor die afgelope paar dae was, verwag Cook 'n "tradisionele" Wanderers kolfblad wat die Proteas se snelaanval sal bevoordeel.

“Ons sal beslis skoonskip in die reeks wil maak," het Cook aan die media in Johannesburg gesê. Ons het juis 'n vergadering gehad waar ons gepraat het van die belangrikheid om 2-0 voor te loop, maar om die taak te voltooi. Ons het daaroor in Australië gepraat nadat ons skoonskip gemaak het in die Eendagreeks, maar kon nie die knoop deurhaak in die Toetsreeks nie. Die ouens is nou gefokus want die toestande bevoordeel ons en ons het tot dusver baie goeie krieket gespeel, so almal is oorgehaal."

“Soos gewoonlik is daar krake op die kolfblad, en dit was nogal baie duidelik hierdie seisoen," het hy verduidelik. "Dis veral moeilik wanneer dit droeër is, maar miskien hou die natter weer die baanblad in 'n beter toestand. Daar behoort meer spoed en wip te wees. Dalk is dit bietjie stadiger as die Toets begin, maar teen dag twee en dag drie speel dit baie vinniger."

Die 34-jarige sê dit sal soos "'n droom wees wat bewaarheid word" wanneer hy op sy tuisveld kom kolf, veral omdat Hashim Amla in sy 100ste Toets vir Suid Afrika sal speel. Hy het ondersteuners gevra om die Proteas te kom ondersteun, omdat dit die span se laaste tuis Toets hierdie seisoen sal wees.

“Dis beslis 'n droom wat bewaarheid is," het hy gesê. "Dit is my tweede tuiste want ek het hier groot geword en my hele loopbaan hier deurgebring. Om hier uit te stap en om 'n Toets vir Suid Afrika te speel, is ongelooflik. Daar is geen ekstra druk nie, net gewone druk omdat dit 'n Toetswedstryd is."

“Daar was baie dae wat ek hier voor 'n leë stadion gespeel het en gewonder het hoe dit sou wees indien die Wanderers stampvol was. Hopelik sal die skare instroom en ons kom ondersteun in hierdie Toets sodat die droom bewaarheid kan word."

Tickets for the match are still available on www.ticketpros.co.za