Nuweland bly 'n droom om op te boul vir Philander

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - JANUARY 03: Vernon Philander of South Africa during day 2 of the 2nd test between South Africa and Sri Lanka at PPC Newlands on January 03, 2107 in Cape Town, South Africa. (Photo by Petri OeschgerGallo Images)

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - JANUARY 03: Vernon Philander of South Africa during day 2 of the 2nd test between South Africa and Sri Lanka at PPC Newlands on January 03, 2107 in Cape Town, South Africa. (Photo by Petri OeschgerGallo Images)

Standard Bank Proteas naatbouler, Vernon Philander, het volgehou dat oorwinnings al is wat saak maak nadat hy weereens met die bal geskitter het en Sri Lanka laat steier het na die tweede dag van die tweede Sunfoil Toets op PPC Nuweland in Kaapstad.

Die 31-jarige het 4/27 ingepalm en sy 150ste Toetspaaltjie in slegs sy 39ste wedstryd vir Suid Afrika geneem. Die besoekers is uiteindelik vir 110 in 43 boulbeurte uitgeboul, voordat die tuisspan hul voorsprong na 317 gerêk het, met al 10 paaltjies staande.

Philander het reeds 35 paaltjies in 6 Toetse in Kaapstad ingeoes.

“Ek geniet dit om hier by die tuiste van krieket te speel want dit is 'n wonderlike plek," het hy gesê. "Ek kon nie aan 'n beter plek gedink het om my paaltjies te neem nie, maar daar is nog baie paaltjies om plat te trek en hopelik kan ek nog meer in my loopbaan neem."

“Ek waardeer elke paaltjie wat ek vir my land neem. Ek geniet dit om te boul en paaltjies te neem en wil so veel as moontlik sukses behaal vir my land."

Kagiso Rabada het die vroeë skade aangerig met sy boulsyfers van 4/37 en hy het ook sy 50ste Toets slagoffer ingepalm.

Daarna het Philander korte mette gemaak van die stertkolwers. Hy het twee Sri Lankaanse kolwers met agtereenvolgende balle laat terugstap pawiljoen toe en staan op 'n driekuns met die aanvang van Sri Lanka se twee tweede kolfbeurt.

“Ek is nie te veel gepla oor die driekuns nie. Dit gaan meer oor ons wat die wedstryd moet wen," het hy geantwoord.

Keshav Maharaj het ook 2/32 geneem op 'n dag waarop Quinton de Kock sy derde hondertal (101, 124 balle, 11 viere) aangeteken het. Kaptein Faf du Plessis kon dalk Sri Lanka laat opvolg het, maar het besluit om verder te kolf. Philander het sy kaptein se besluit verdedig.

“Ons moes as 'n span 'n besluit maak oor wat ons die beste kans sou bied om die wedstryd te wen," het hy gesê. "Ons het die harde werk met die bal gedoen en wou die boulers 'n blaaskans gee. Ons het twee agtereenvolgende Toetse gespeel en na die moeilike Toets in PE, het ons gevoel dis die beste besluit om die wedstryd te wen."

Philander het toegegee dat hulle nie 'n teiken in gedagte het nie, maar glo hulle is in 'n sterk posisie om die wedstryd te wen.

“Daar is nog baie tyd oor in die Toets en dis nog bietjie vroeg om te raai wat 'n goeie teiken is," het hy bygevoeg. " Ons sal aanhou kolf en dan kyk hoe dinge teen etenstyd staan."