Abbott maak deurslag en beklink oorwinning vir Proteas

Standard Bank, Proteas bowler Kyle Abbott

Standard Bank, Proteas bowler Kyle Abbott

KYLE ABBOTT het vroeg toegeslaan en die Standard Bank Proteas het net 40 minute benodig om die oorblywende 5 Sri Lankaanse paaltjies in te oes om aan die tuisspan 'n oorwinning met 206 lopies in die eerste Sunfoil Toets op St George's Park te beklink.

Abbott het die kaptein van Sri Lanka, Angelo Mathews in die derde boulbeurt van die dag kleedkamer toe gestuur met Dhananjaya de Silva wat vier boulbeurte later uitgehaal is. Beide is BVP betrap met aflewerings wat die bokant van die bypen sou tref. Hulle was ook die laaste erkende kolwers en was Sri Lanka se enigste hoop om die wedstryd te red.

Vernon Philander het toe 'n uitstekende vangskoot benut om van Rangana Herath ontslae te raak voordat Kagiso Rabada en Keshav Maharaj elk 'n paaltjie geneem het om die wedstryd te beëindig.

Die boulers het gedeel in die paaltjies en dit was duidelik 'n spanpoging. Philander is nou op die drumpel van nog 'n mylpaal (148 paaltjies en Rabada (48) met die tweede Toets wat Maandag op PPC Nuweland begin.

Een van die positiewe aspekte van die wedstryd vir die tuisspan was die boulwerk van Maharaj, wat 3/86 in sy 30 boulbeurte laat kantel het. Hy was ongelukkig om nie 5 paaltjies plat te trek nie.

Stephen Cook is as die Sunfoil Speler van die Wedstryd aangewys nadat hy 176 lopies in die wedstryd aangeteken het en ook sy derde Toetshonderdtal gemoker het.

Suid Afrika het dus 2016 afgesluit met 5 oorwinnings, twee onbesliste uitslae en twee nederlae. Hulle is tans in die 4de plek op die Internasionale Krieketraad se ranglys.